Pumas maak die pap dik aan in Curriebeker

Pure Puma-passie. Jimmy Stonehouse word op die spelers se skouers  ná verlede jaar se eindstryd gedra. (Foto: Twitter/Curriebeker)

Die Pumas is ongetwyfeld besig om op verlede jaar se Curriebeker-sukses voort te bou. Die verdedigende kampioenspan het tien drieë in Welkom gedruk om die Griffons met 64–6 te oorrompel.

PJ Jacobs het ʼn driekuns van drieë behaal en die Pumas het 45 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aangeteken.

Jimmy Stonehouse se span het nou saam met die Cheetahs 25 punte op die amptelike punteleer, maar hul punteverskil lyk beter as die Bloemfonteiners sʼn.

Die Laevelders speel lekker aanvallende rugby en Marius van Rensburg, uitvoerende hoof van die Mpumalanga-rugbyunie, het vroeër ná die span se topsege teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld gesê dat die spelers hul ondersteuners met vermaakrugby wil bederf.

“Ek is baie trots op die span en die soort spel wat hulle opdis. Ons is immers in die vermaakbedryf en ons moet sorg dat rugbyliefhebbers ons produk geniet. Dit is vir ons belangrik dat selfs die ondersteuners van ander spanne daarvan hou om die Pumas te volg en ek is dankbaar vir alles wat coach Jimmy [Stonehouse] en sy spelers doen. Daar is goeie dinge aan’t gebeur by die span.”

Dan het Griekwas die wendrie in die 83ste minuut van die wedstryd teen die Leeus op Ellispark gedruk.

Die manne van Kimberley het die kragmeting met 25–18 beklink en hulle is tans sesde op die punteleer.

Ja-nee, vir spanne soos die Pumas en Griekwas is die Curriebeker beslis nie ʼn museumstuk nie.

  • Curriebeker-punteleer:
  1. Pumas: 25 punte
  2. Cheetahs: 25 punte
  3. Haaie: 15 punte
  4. Westelike Provinsie: 15 punte
  5. Leeus: 14 punte
  6. Griekwas: 14 punte
  7. Blou Bulle: 13 punte
  8. Griffons: 6 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.