Pure Blitsbok-krag!

Foto: @Blitzboks/Twitter

Jislaaik, maar dit is pret om tans na die Blitsbokke se spel te kyk.

Ten spyte van ’n agterstand van 14-0 teen Fidji in hul tweede groepwedstryd vanmiddag in Kaapstad het die Suid-Afrikaners ’n rits drieë gedruk om die wedstryd met 26-14 te wen.

Kom ons plaas daardie telling in perspektief: Die Blitsbokke het in ’n aksiebelaaide kragmeting 26 onbeantwoorde punte teen die reuse van Fidji aangeteken.

Rosko Specman het die Suid-Afrikaners se eerste drie gedruk nadat hy met ’n zoep-zap-en-zirts-lopie óm die verdedigers gedans het.

Sy drie net voor rustyd het die momentum-pendulum beslis in die Blitsbokke se guns geswaai.

Daarna het Seabelo Senatla oudergewoonte agter die doellyn gaan kuier, Ryan Nel het sy krag uitgestal, terwyl Justin Geduld ook hakskene vir die verdedigers gewys het.

Natuurlik was die duisende toeskouers ook soos een man agter die Suid-Afrikaners.

“Hulle (die toeskouers) is ongelooflik. Ons kan vir niks beter vra nie,” het Chris Dry ná die wedstryd gesê.

En soos wat die Blitsbokke tans speel, kan ondersteuners ook nie eintlik vir meer vra nie.

Hulle speel vanaand om 20:03 teen die VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Werner ·

Moet tog net nie weer se hierdie nonsens gaan die land weer hoop gee nie

Dubbelloop ·

Jy is reg Werner. Ek glo almal van ons sal ons gewig agter die bokke gooi, net so met die verandering van hoop met die krieket, maar sport sal nooit die mense kan verenig nie.
Hoop regtig dat die sewes hier in SA kan voortbou op hulle eerste toernooi wen in Dubai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.