Rassie: ’n Held hier, ’n skurk daar

Rassie Erasmus. (AP Photo/Christophe Ena)

Rassie Erasmus en SA Rugby (Saru) het tot gister geleentheid gehad om hul verweer aan Wêreldrugby voor te lê.

Erasmus het ’n video van 62 minute uitgereik waar hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is en daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan die Bokkaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Veral Australië se Nic Berry het onder Erasmus se bekwame videoredigeer-vingers deurgeloop en Rugby Australië het die “aanval” onder meer as “onaanvaarbaar” bestempel.

Wêreldrugby sal binnekort die amptelike datum van die tugverhoor, sowel as die lede wat op die tugkomitee sal dien, bekendmaak.

Intussen meen die voormalige Springbokafrigter Ian McIntosh dat Erasmus vir sy video geprys moet word; skeidsregters is immers nie verhewe bo kritiek nie.

Volgens McIntosh het die spel in die afgelope paar jaar te reëlbehep geword, met sekere bepalings wat gereeld by die reeds bestaande wette gevoeg word.

Nigel Owens. Foto: Charly Triballeau/AFP.

“Kan iemand Wêreldrugby met die nodige respek inlig dat wette daargestel is om die spel te laat vloei; nie om dit gereeld te onderbreek nie. Terselfdertyd is dit ook belangrik dat die skeidsregter weer no. 31 op die veld word en no. 1 nie,” het McIntosh in ’n onderhoud met iol.co.za gesê.

Die oudafrigter meen dat skeidsregters daarop uit is om strafskoppe uit te wys, in plaas daarvan om die spel te laat vloei.

“Hoe anders word die 30 strafskoppe per wedstryd verduidelik? Die ou beginsel van om op die spel te konsentreer en nie die wet nie, het duidelik by die stadionvenster uitgewaai.”

Tog is daar baie wat nie met Erasmus saamstem nie.

“Ja, ons moet vorentoe beweeg, maar dit beteken hoegenaamd nie dat afrigters openlik krities oor skeidsregters op sosiale media, TV of tydens mediakonferensies kan wees nie,” die Nigel Owens, oudskeidsregter, in ’n rubriek geskryf.

“Ons kan nie ’n situasie bekostig waar alles in ’n openbare gestryery ontaard nie. Dit het ’n negatiewe invloed op rugby se waardestelsel en die respek vir die skeidsregter.”

Die voormalige Walliese kaptein Paul Thorburn meen dat Erasmus vir sy optrede moet pa staan.

Die Springbokke het die afgelope reeks teen die Britse en Ierse Leeus gewen. Foto: Rodger Bosch/AFP.

“In rugby was dit nog altyd ’n gegewe saak dat spelers en afrigters nie wedstrydbeamptes kritiseer nie. Jy aanvaar die besluit en jy beweeg aan. Maar hier is nou iemand wat ’n skeidsregter oor sy vertoning aanvat; ek dink dit is reg dat Erasmus sy optrede moet regverdig.”

Intussen vertrek die Springbokke môre na Australië vir die oorblywende Rugbykampioenskap-wedstryde.

Sedert Erasmus deel van die Springbok-opset geword het, het die Suid-Afrikaners die Rugbykampioenskap in 2019 gewen, die Webb Ellis-trofee omhoog gehou en met die Britse en Ierse Leeus afgereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pierre ·

Gaan staan pa vir die uitlatings reg of verkeerd Suid Afrikaners is nie bang om pa te staan vir wat hulle se nie, besluite beinvloed vergoeding dit is nie net “aanvaar en beweeg aan nie” as die besluit herhaaldelik verkeerd is moet dit uitgewys word, soos ek verstaan was daar reeds prosese gevolg om die punte te adreseer maar was gesmoor.

Trotse Boervrou ·

Die afgelope paar wedstryde het die skeidsregters amper geen verkeerde beslissings gemaak nie. Dit is nou natuurlik na Rassie se video. Ons het na sy video al die wedstryde gekyk en nie een keer die skeidsregters sleg gesê nie. In my oë is Rassie ‘n held want hy het gedoen wat geen mens bereid was om al die jare te doen nie. Dankie Rassie! Ons waardeer jou.

Anoniem ·

Dis hoogtyd dat iemand sy mond uitspoel oor swak wedstryd hantering deur skeidsregters. Ons speel nie meer in die amateur jare nie, daar is baie geld op die spel. SA loop al vir etlike jare deur onder swak skeidsregter beslissings, maar word deur wêreld rugby se reëls verbied om ‘n woord te rep. Skeidsregters kan wel foute maak, maar hulle het soveel tegnologie tot hulle beskikking dat dit bykans onvergeeflik is om soveel foute in 1 wedstryd te maak soos wat deur Rassie uitgewys is. Kom ons kyk nou of wêreld rugby kroon juwele het om iets aan swak skeidsregters te doen. Die bandiet kolonie down under moet eerder hulle eie agterplaas skoonmaak, hulle speel nie juis topklas rugby nie.

Willi ·

Hierdie water draer hoort nie op die veld nie, nog minder om die hele wedstryd langs die veld op en af te hardloop en bevele te skree nie. Nee sies man!!, dit is nie meer skole rugby nie, maar mense wat miljoene betaal word. Hoop hy kry sy pak slae en word in die bek geruk om sommer vinnig die rooi kaart te kry. Maak mens naar!!! Wie is hy nogal om altyd die skeidsregters te wil kritiseer?

Willi ·

Hoop hy word geskors of langs die veld verban. Wie is hy nou eintlik om altyd die skeidsregters te wil kritiseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.