Rennie se snoeiskêr veilig weggebêre

Nic White en Dave Rennie. Foto: Twitter.

Vir die eerste keer sedert Dave Rennie in 2020 Australië se afrigterleisels vasgevat het, kon hy dieselfde span in twee opeenvolgende wedstryde kies.

Die Wallabies se beginvyftiental bly onveranderd vir die naweek se toets teen die Springbokke in Sydney.

“Ons wil begin om ’n bietjie momentum op te bou en dit is goed om kontinuïteit te hê wat spankeuse betref. Hierdie is ’n groot naweek vir al die spanne in die Rugbykampioenskap en veral vir ons met die Bledisloebeker-wedstryde teen die All Blacks wat voorlê,” het Rennie gesê.

Hy het darem bygevoeg dat Australië se fokus nog 100% op die Springbokwedstryd is, maar die Sydney Morning Herald het berig dat die meeste Wallabies-ondersteuners waarskynlik oukei daarmee sal wees as hul span Saterdag teen Siya Kolisi en kie verloor; solank hulle net hul stempel teen die All Blacks kan afdruk.

Hulle kon immers in 2002 laas met die Bledisloe-louere wegstap.

Die Aussies het verlede naweek die Suid-Afrikaners met 25 – 17 in Adelaide geklop en die wedstryd is onder meer gekenmerk deur die Springbokke se onvermoë om geleenthede in punte te omskep.

“Suid-Afrika is ’n baie goeie span en hulle sal vir die nederlaag wil vergoed,” het die Wallabies-afrigter gewaarsku.

In teenstelling met Rennie – wie se snoeiskêr veilig weggebêre is – het Jacques Nienaber ’n rits veranderinge aan die Springbok-span aangebring.

Benewens Canan Moodie wat sy Springbok-buiging maak, sal Willie le Roux, Jesse Kriel, Jaden Hendrikse, Jasper Wiese, Franco Mostert, Malcolm Marx en Steven Kitshoff die wedstryd vir die Suid-Afrikaners begin.

Volgens Nienaber is Saterdag se wedstryd maak of breek vir die Springbokke in die toernooi.

“Ons benader dit as ’n eindstryd om in die toernooi-wedloop te bly en ons verwag dat Australië net so desperaat soos ons sal wees om ’n goeie vertoning te lewer,” het die Springbok-afrigter gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 11:35 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Wallabies: Reece Hodge (heelagter), Tom Wright (regtervleuel), Len Ikitau (buitesenter), Hunter Paisami (binnesenter), Marika Koroibete (linkervleuel), Noah Lolesio (losskakel), Nic White (skrumskakel), Rob Valetini (agtsteman), Fraser McReight (flank), Jed Holloway (flank), Matt Philip (slot), Rory Arnold (slot), Allan Alaalatoa (stut), Folau Fainga’a (haker) en James Slipper (kaptein en stut). Plaasvervangers: David Porecki, Scott Sio, Taniela Tupou, Darcy Swain, Rob Leota, Pete Samu, Jack Gordon en Andrew Kellaway.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

N ·

Hoe mis ons nou ouens soos Bakkies of Schalk wat die ander span se nr 9’s op hulle plek gesit het.

Niklaas ·

Hierdie nommer 9 van die Aussies , met die Sammajoor snor , kort juis bietjie spesiale aandag van ons voorspelers.

N ·

Snaaks hoe die Wallaby ondersteuners afrikaans verstaan. Sien hulle ‘dislike’ baie goeie kommentaar.

Harley Davidson ·

Dit kan nie moeilik wees om die sa span te wen nie vir obvios redes natuurlik maar die blacks die span wat ek ondersteun is ‘n ander storie.

Treurwilger ·

Die Wallabies loop gevaar om die houtlepel te verower met ‘n verloor teen die Bokke Saterdag, want die All Blacks laat nie sómmer toe dat die buurman hulle klop op die rugbyveld nie.
Die geweeklaag in SA moet oor die De Klerk-breinfloute gaan, en nie oor White nie.

Koos 100 ·

Ek dog toe mos nou dat hy vir Tom Cruise, Tom Hanks en al die mans van GMR sou wou nooi vir sy begin span? Hy het klaar een goeie akteur. Met 15 en ‘n NZ ref het hy klaar die wen punte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.