RG wil Wêreldbeker toe

Rassie Erasmus en RG Snyman. (Foto: Odd Andersen/AFP)

RG Snyman wil Suid-Afrika help om sy Wêreldbeker-titel te verdedig.

Die 28-jarige slot was ʼn lid van die gedugte Bomb Squad toe die Springbokke in 2019 die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het en hy brand om deel van die aksie in Frankryk te wees.

Sy laaste toets was egter juis in Jokohama toe die Bokke vir Engeland met 32 – 12 in die eindstryd geklop het. Sedertdien het ʼn rits beserings sy internasionale loopbaan gekniehalter.

Hy het egter sy staal gewys vir Munster teen die Stormers in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd. Hy het sy man op verdediging gestaan, met sy aangeewerk beïndruk en sy stempel in die lynstane afgedruk.

Hoewel Wêreldrugby se harsingskuddingsregulasies bepaal het dat hy Munster se volgende kragmeting teen die Sharks moes misloop, behoort Snyman hierdie naweek in die Iere se VRK-kwarteindstryd teen Glasgow Warriors te speel.

Snyman in aksie teen die Stormers. (Foto: Hansie Linde)

“Ek wil deur my vertonings – en elke oomblik wat ek op die veld spandeer – wys dat ek gereed is om weer deel van die Springbok-opset te word,” het hy in ’n onderhoud met die Irish Mirror gesê.

Vroeër was Graham Rowntree in sy skik met die Suid-Afrikaner se werkverrigting; veral nadat ʼn kniebesering hom lank langs die veld gehou het.

“RG het ʼn uithalervertoning gelewer en met sy fisieke teenwoordigheid het hy beslis ʼn verskil op die veld gemaak. Hy het ʼn moeilike tyd agter die blad, maar hy is een van ons steunpilare en die spelers het baie respek vir hom,” het die Munster-afrigter ná die Stormers-kragmeting gesê.

Intussen is Snyman oorgehaal om met elke wedstryd beter te speel.

“Dit is ’n vreemde gevoel; dit is amper soos om van vooraf met jou loopbaan te begin. Ek probeer om met elke wedstryd op my vertoning van die vorige week te bou.”

Munster speel Saterdag om 20:35 teen die Glasgow Warriors op die Scotstoun-stadion. Die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.