Rose begin op wêreldranglys verlep

Foto: Paul Ellis/AFP.

Wallis pluk die vrugte van sy spogvertoning teen Engeland in die afgelope naweek se Sesnasies-kragmeting.

Alun Wyn Jones en Kie. het die wedstryd met 40–24 gewen en volgens Wêreldrugby se jongste ranglys is die Rooi Drake nou die vyfde beste rugbyspan ter wêreld.

Daarteenoor is die Rose ongetwyfeld aan’t verlep. Ná twee nederlae in die reeks is Eddie Jones se span nou vierde op die punteleer.

Wallis – wat die reeks in die negende plek begin het – kan homself binnekort onder die topvier spanne bevind indien hy op 13 Maart vir Italië ore aansit en Engeland op dieselfde dag teen Frankryk vasval.

Indien Warren Gatland nou sy Britse en Ierse Leeusspan sou moes kies, is die kanse goed dat daar skielik aansienlik meer Walliese spelers in die groep sal wees.

Maar die gelukkigste span op die internasionale verhoog is ongetwyfeld die Springbokke.

Dit is al 486 dae sedert hulle Engeland in Japan geklop het om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, maar die Springbokke is steeds die voorste span ter wêreld.

En dít sonder om ’n enkele wedstryd te speel.

  • Wêreldrugby se ranglys soos op 1 Maart 2021:
  1. Suid-Afrika 94,20 punte
  2. Nieu-Seeland 88,50 punte
  3. Frankryk 86,42 punte
  4. Engeland 85,63 punte
  5. Wallis 83,97 punte
  6. Australië 83,08 punte
  7. Ierland 82,55 punte
  8. Skotland 81,29 punte
  9. Argentinië 80,31 punte
  10. Japan 79,29 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chrisp ·

Die proteas kan dankie se hulle speel nie wedstryde nie.
Eintlik belaglik dat die proteas bo bly.

MakersMark ·

Stem saam ek dink Wallis se boulaanval is baie sterker. Gelukkig speel Indië nie rugby nie hulle sou meeste spanne met ‘n beurt geklop het.

Jurie ·

Jammer maar die Proteas speel nie rugby nie;alhoewel ek dink daar ‘n kriekettelling gaan wees as die Springbokke teen die Leeus gaan speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.