Rugbybase tevrede met studente se têkkelvaardighede

(Foto: X/Springboks)

SA Rugby (Saru) is tevrede met die duikslagvertoning by die afgelope Varsitybeker-reeks. Dít kom nadat nuwe reëls om rugby veiliger vir skool- en klubspelers te maak by verlede jaar se algemene vergadering goedgekeur is.

Daar is deesdae ʼn wesenlike poging om laer as vantevore te têkkel en die gewilde studentereeks was die eerste toernooi om dié regulasies op die speelveld uit te toets.

Volgens Saru se amptelike statistieke het die strafskoptelling vir hoogvat-duikslae van 14,5 per ronde tot 7,5 teen die einde van die groepfase verminder.

“Soos wat Rassie Erasmus [Springbok-hoofafrigter] tereg genoem het: Om laer te têkkel kan op die oefenveld gekweek word en ek wil die afrigters en spelers vir hul harde werk bedank,” het Rian Oberholzer gesê.

Saru se uitvoerende hoof meen die wedstrydbeamptes verdien ook ʼn klop op die skouer vir hul handhawing van wet en orde op die speelveld.

“Alle betrokkenes het gewys wat met ʼn positiewe ingesteldheid vermag kan word. Daar was nie net minder strafskoppe nie, maar dit lyk of daar ook minder harsingskudding-gevalle in die toernooi was; ʼn doelwit wat ons beslis wou bereik.”

Hy het egter ook die punt onderstreep dat daar nog harde werk op spelers en beamptes wag.

“Ons het nie die besluit om hierdie regulasies in te stel ligtelik geneem nie en dit het maande lange harde werk geverg. Ja, ons gee nie voor dat die skeidsregters elke keer in die kol met hul beslissings is nie, maar daar is beslis verbetering.”

Oberholzer het ʼn beroep op spelers en afrigters gedoen om die nuwe reëls met die nodige erns te benader.

“Dit is belangrik vir die volgehoue veiligheid van spelers dat alle betrokkenes hul beste gee.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.