Rugbykampioenskap: All Blacks spoel oor die Poemas

Nieu-Seeland se All Blacks doen die Haka (3 Julie 2021) (Foto: Michael Bradley/AFP)

Die All Blacks het beslis die hef in die hand in vanjaar se Rugbykampioenskap, maar tog is daar ʼn paar leemtes wat dalk uitgebuit kan word.

Die Nieu-Seelanders het die Argentynse Poemas Sondagoggend aan die Goudkus buite Brisbane met 39-0 verwoes nadat hulle rustyd reeds met 22-0 voor was. Die All Blacks het die Poemas heeltemal oorheers en vyf drieë in hul bonuspunt-sege gedruk.

Volgens die wedstrydstatistieke het hulle 702 meter met die bal gevorder teenoor die Poemas se 186 en het hulle die bal 225 keer aan- en uitgegee (teenoor 112).

Hulle het in ʼn stadium 80%-gebiedsvoordeel gehad en 70%-besit geniet, maar ook agt keer besit afgestaan en twee lynstane verbrou.

Die All Blacks het teen ʼn baie vinnige tempo gespeel; hulle het in die eerste helfte byna 180 keer die bal aangegee en in een beweging 14 fases binne twee minute afgedwing.

Maar hul lynstane het effe gelol met Sam Whitelock nie beskikbaar nie weens die geboorte van sy kind.

Whitelock sal weens die Aussies se kwarantynvereistes saam met Richie Mo’unga en Aaron Smith (al drie het vaderskapsverlof) die res van die reeks ook misloop.

Die All Blacks het stewig geskrum, sonder om te oorheers. Dan kon die plaasvervangers ook nie die nodige energie verskaf nie.

Maar dalk is ʼn mens te kras en gryp jy aan strooihalms.

Die Poemas, ondanks hul derde agtereenvolgende groot nederlaag, het die vermoë om besit stadig te maak, om die spel te laat uitrafel en met hul verdediging hul teenstanders te frustreer.

Onthou gerus dat die Springbokke nie ʼn bonuspunt in die tweede toets teen hulle kon verdien nie.

Aan die All Black-kant was die losskakel Beauden Barrett, tot voordat hy net ná rustyd deur Damian McKenzie vervang is, die groot planmaker.

Barrett het gebreek, sy agterlyn goed weggestuur en takties goed geskop, maar sy skopwerk pale toe het weer gelol.

Punte: Nieu-Seeland 39 (22): Drieë: Luke Jacobsen (2), Rieko Ioane, Sevu Reece, Dalton Papalii. Doelskoppe: Beauden Barrett, Jordie Barrett (3). Strafdoele: Beauden Barrett, Jordie Barrett.

Argentinië 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.