Rugbykampioenskap: All Blacks vermorsel Pumas

Die All Blacks en die Pumas sê mekaar die stryd aan. (Foto: All Blacks/Facebook)

Dit bly een van die raaisels van toetsrugby waarom die All Blacks die afgelope paar jaar die mantel van onbestendigheid en middelmatigheid oor die kop getrek het.

Saterdag in Hamilton was dit weer Nieu-Seeland van ouds, die span wat tussen 1965 en 1970 onoorwonne was, wat onder die leiding van Richie McCaw en Steve Hansen daarop voortgebou het, wat sedert 1987 drie Wêreldbekertoernooie (1987, 2011 en 2015) gewen het, wat 18 keer in die Rugbykampioenskap in 25 jaar baas was, wat met ʼn wenpersentasie van meer as 77% in toetsrugby spog.

Die All Blacks het een van hul mees kliniese en gedissiplineerde vertonings van die afgelope paar jaar gelewer toe hulle Argentinië met 53-3 in die Rugbykampioenskap vermorsel het nadat hulle rustyd met 24-3 voor was.

Die All Blacks was klinies, passievol en meedoënloos. Hulle het die Pumas gewurg, van hul voete af gespeel en wraak geneem nadat die Argentyne verlede Saterdag se toets met 25-18 gewen het.

Die All Blacks was Saterdag skitterend en het in haglike reëntoestande die bal net drie keer laat val. Volgens die amptelike statistieke het hulle die bal 161 keer hanteer.

Hulle het baie goed geskrum, al hul lynstane beklink en die stryd om die los bal oorheers.

Voorlangs was Sam Cane en Ardie Savea vol plofkrag en vuur.

Agterlangs was Aaron Smith, Richie Mo’unga, Rieko Ioane en Caleb Clarke feitlik onstuitbaar.

Maar die vraag bly staan hoe die All Blacks vanjaar teen die Iere, Springbokke en Pumas verloor het, net om weer op die wenpad te kom?

Was Saterdag se oorwinning die keerpunt in All Blacks-rugby, of gaan hulle teen die Wallabies weer in ʼn groef van middelmatigheid verval?

Dis nie goeie nuus vir Suid-Afrikaanse ondersteuners nie, maar wêreldrugby het só ʼn All Black-span nodig: Talentvol, passievol en balvaardig, wat nie skroom om drieë te druk nie.

Punte: Nieu-Seeland 53 (21): Drieë : Ethan de Groot, Caleb Clarke, Rieko Ioane, Jordie Barrett, Ardie Savea, Brodie Retallick, Beauden Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4), Jordie Barret (2). Strafdoele: Mo’unga (2.)

Argentinië 3 (3). Strafdoel: Emiliano Bofelli.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vuurvliegie ·

My Span is terug in volle glorie. Well Done ALL BLACKS.
Dis mos rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.