SA Rugby skors Grens oor geldgemors

Die Grens-rugbyunie (GRU) se voortslepende geldgemors het daartoe gelei dat die bond se lidmaatskap deur SA Rugby opgeskort is in die lig van dié en ander administratiewe kwessies.

SA Rugby het die aankondiging Vrydag in Kaapstad gedoen, nadat die besluit reeds Woensdag deur sy uitvoerende bestuur geneem is.

Die GRU is een van die kleiner bonde wat tans in ʼn dispuut met die SA Rugbyunie (Saru) gewikkel is omdat sy geldtoekenning met meer as die helfte ingekort is.

SA Rugby se stap volg skaars meer as ʼn maand nadat die GRU sy president, Pumlani Mkolo, op sy Facebook-blad met sy verkiesing tot voorsitter van die ANC se Buffalostad-streek geluk gewens het, en ʼn mens kan nie help om oor gestelde prioriteite in albei gevalle te wonder nie.

Mkolo het ʼn lang lys hofverskynings wat met beweerde bedrog en korrupsie verband hou en het ook skorsings uit poste deur die ANC die afgelope paar jaar op sy rekord.

Die Bulldogs was vanjaar tweede laaste uit die sewe bonde wat die Curriebeker- Eerste Liga betwis het.

Luidens SA Rugby se verklaring het hy sy grondwetlike mag rakende die geldsake van bonde uitgeoefen, en kan hy nou ʼn administrateur aanstel om ten volle beheer oor die bond se sake oor te neem.

Die GRU is die derde bond in onlangse jare wat ingryping deur SA Rugby noodsaak, nadat die Suidwestelike Distrikte en die Oostelike Provinsie tevore deur die nasionale liggaam geadministreer moes word. Albei se sake is sedertdien weer in orde bevind.

SA Rugby sê die GRU het hom in 2014 die eerste keer genader om beperkte toesig oor sy geldsake te aanvaar. Die kwessie het egter algaande versleg, en die GRU het telkens versuim om afsprake met sy (SA Rugby se) uitvoerende raad en finansiële komitee na te kom.

Dit het hom geen keuse gelaat nie, as om die bond te skors nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Callie ·

Soos alles in die land, kyk maar wie was aan die dtuur van die unie. Die liberaliste wat almal probeer oortuig die mense kan n besigheid bestuur. Julle stellings daaroor word n grap

Gemaskerde Sopbeen ·

Daar is net een ding erger as apartheid………..en dis geforseerde integrasie…op alle gebiede, sport ingesluit………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.