SA spanne moet ligloop vir Europeërs

Deur Rudolph Lake

Die Blou Bulle in aksie. (Foto: Facebook/Blou Bulle)

Die Suid-Afrikaanse rugbyspanne in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) ry tans op die kruin van die golf.

Kenners voorspel egter dat die SA spanne se segetogte tot ʼn einde gaan kom in Saterdag se vierde ronde van dié internasionale reeks.

Die Bulls, onoorwonne ná drie wedstryde, pak die Glasgow Warriors in Skotland, terwyl die Stormers en Sharks, wat albei een minder wedstryd gespeel het en met twee seges spog, onderskeidelik met Zebre en die magtige Leinster kragte meet.

Die Glasgow Warriors word deur die Suid-Afrikaner Franco Smith afgerig en die Bulls is daarom baie versigtig vir hulle.

“Franco ken die Bulls goed en hy is ʼn slim afrigter. Hulle is ʼn gevaarlike span op hul tuisveld,” het die Bulls-hulpafrigter Nollis Marais oor sy span se wedstryd in Glasgow gesê.

Volgens Marais is die Bulls verheug oor die vuurvreter-flank Marco van Staden se terugkeer na die span.

Van Staden en Marcell Coetzee vorm saam met Elrigh Louw ʼn gedugte lostrio en dié drie se spel kan die Bulls op die voorvoet plaas.

Die Bulls probeer deesdae om meer aanvallend te speel in pleks van tienman-rugby, maar die regte besluite op die regte tyd sal Saterdag die Suid-Afrikaners se lot bepaal.

*Die Bulls-span:

Kurt-lee Arendse, Cornal Hendricks, Lionel Mapoe, David Kriel, Stedman Gans, Chris Smith, Elrigh Louw, Marco van Staden, Marcell Coetzee (k), Ruan Nortje, Walt Steenkamp, Francois Klopper, Jan-Hendrik Wessels, Gerhard Steenkamp. Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Janko Swanepoel, Reinhardt Ludwig, Embrose Papier, Morne Steyn, Wandisele Simelane.

Nuwe kombinasie vir Stormers

Die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies maak Saterdag sy eerste verskyning van die seisoen vir die Stormers wanneer hulle in Parma met Zebre kragte meet.

Voorts sal die veelsydige Bok-agterspeler Damian Willemse op heelagter vir die Kapenaars uitdraf, met Salmaan Moerat wat die span sal lei in senter Alapati Leuia se debuut-verskyning in die VRK-reeks.

Afrigter John Dobson is in sy noppies met hoe die span se voorbereiding verloop het en sê hy kan nie wag om die nuwe kombinasies in die span in aksie te sien nie.

“Die span wemel van talent en dit is fantasties om ʼn speler van die statuur van Salmaan (Moerat) te hê om die kapteinskap oor te neem.

“Ek is ook opgewonde om spelers soos Alapati (Leuia) en Sacha (Mngomezulu) ʼn geleentheid te gee en brand om Damian (Willemse) en Herschel (Jantjies) weer in ʼn Stormers-trui te sien.

“Dit gaan bars teen Zebre. Hulle is ʼn gedugte eenheid en op hul tuisveld is hulle ʼn moeilike span,” het Dobson oor die Suid-Afrikaners se stryd teen die Italianers gesê.

*Die Stormers-span:

Damian Willemse, Suleiman Hartzenberg, Alapati Leuia, Sacha Mngomezulu, Angelo Davids, Manie Libbok, Herschel Jantjies, Evan Roos, Willie Engelbrecht, Junior Pokomela, Adre Smith, Salmaan Moerat (k), Neethling Fouche, Andre-Hugo Venter, Ali Vermaak. Plaasvervangers: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Brok Harris, Marvin Orie, Nama Xaba, Marcel Theunissen, Paul de Wet, Dan du Plessis.

*Sazi Sandi sal die Stormers se volgende drie wedstryde vanaf die kantlyn dophou nadat die stut Donderdag geskors is weens vuilspel in die Kapenaars se wedstryd teen Edinburgh.

Sandi en die Edinburghse flank Jamie Ritchie het koppe gestamp toe Sandi die losvoorspeler probeer neertrek het.

Die skeidsregter, Frank Murphy, het Sandi met ’n rooikaart gestraf nadat hy die televisie-skeidsregter geraadpleeg het.

Sharks wil beter speel

Die Sharks het twee veranderinge aan hul span gemaak vir hul VRK-wedstryd Saterdag in Dublin teen Leinster.

Hyron Andrews vervang Reniel Hugo op slot, met Sikhumbuzo Notshe sal op agtsteman in die plek van Phepsi Buthelezi sak.

Notshe se insluiting gee die Sharks se lostrio ekstra spoed en hy sal saam met James Venter en Dylan Richardson probeer om Leinster na die afbreekpunte te klop en die Ierse span van balbesit te weerhou.

Die Sharks weet hulle sal op hul vorige twee vertonings teen Zebre en die Dragons moet verbeter indien hulle Leinster wil troef.

“Ons het die laaste twee weke baie hard gewerk, maar daar was sekere aspekte van ons spel teen Zebre en die Dragons wat nie goed was nie en waarop ons sal moet verbeter.

“Ons is nog ver van die spelpeil waarna ons streef. Ons Springbok-spelers moet ook nog terugkeer so ons probeer geduldig bly en slyp aan kombinasies waar ons kan,” het hulpafrigter Warren Whiteley gesê.

Volgens Whiteley het die Sharks ʼn spesifieke wedstrydplan vir die kragmeting met Leinster.

“Ons het ʼn eenvoudige plan waarin ons glo. Leinster het ʼn goeie pak voorspelers en ons sal op die regte tye die regte besluite op die veld moet neem indien ons die wedstryd wil wen,” sê Whiteley oor die Sharks se hoop op sukses teen hul magtige Ierse teenstanders.

*Die Sharks-span:

Aphelele Fassi, Werner Kok, Rohan Janse van Rensburg, Ben Tapuai, Thaakir Abrahams, Boeta Chamberlain, Grant Williams, Sikhumbuzo Notshe, Dylan Richardson, James Venter, Hyron Andrews, Justin Basson, Thomas du Toit (k), Kerron van Vuuren, Nthuthuko Mchunu. Plaasvervangers: Dan Jooster, Dian Bleuler, Carlu Sadie, Reniel Hugo, Phepsi Buthelezi, Cameron Wright, Nevaldo Fleurs, Marnus Potgieter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.