Sale klop Gloucester met 14 man

Faf de Klerk speel vir Sale Sharks tydens verlede week se wedstryd teen La Rochelle in die Engelse Premierliga. (Foto: XAVIER LEOTY / AFP)

Die Sale Sharks kon Saterdag daarin slaag om Gloucester met net 14 man op die veld te klop. Dit nadat die losskakel Robert du Preez in die 24ste minuut die trekpas gekry het ná ʼn boorvat op Val Rapava-Ruskin.

Met nege woelige Suid-Afrikaners soos De Klerk, Akker van der Merwe en Coenie Oosthuizen in die opdrafspan, het die fisieke Sale vasgebyt en Saterdag vir Gloucester naelskraaps met 25 – 22 geklop.

Faf de Klerk was oudergewoonte kookwater en het ʼn drie vir Sale gedruk.

Die span het ten spyte van sy swak dissipline-rekord dit reggekry om tussen die topvier tydens die Engelse Premierliga te bly en sy kanse om tot die uitspeelrondes deur te dring, lewendig te hou.

Alex Sanderson, afrigter-direkteur van Sale, sê die span se dissipline word gereeld bespreek.

Vir Gloucester, wat nou 12 wedstryde in die liga verloor het en 11de op die puntelys is, lyk sake maar droewig.

Die Bristol Bears (66 ligapunte), wat die London Wasps met 43 – 12 geklop het, is 12 punte voor die Exeter Chiefs (54), wat ʼn sege van 43 – 12 oor die London Wasps behaal het.

Sale (50) is derde, gevolg deur Harlequins (ook 50 punte) wat die Worcester Warriors met 56 – 20 getroef het.

André Esterhuizen, Wilco Louw en Jordan Els (plaasvervanger-stut) was in Harlequins se beginspan wat die krane teen die Worcester Warriors oopgedraai het.

Gerrit-Jan van Velze en Francois Venter was in die Warriors se beginspan, maar albei is later vervang.

In Frankryk is Toulouse, die voorloper in die Top14, met ʼn oorwinning van 26 – 24 deur Castres geskok.

Toulouse het weliswaar hul topspelers ʼn ruskans ná verlede week se Kampioeneliga-wedstryde gegee, maar die span is nou deur La Rochelle (albei het 67 punte) op die Top14-punteleer ingehaal.

En wie was weer die staatmaker vir Castres? Die 34-jarige veteraan-skrumskakel Rory Kockott.

La Rochelle, met Dillyn Leyds (hy het nog ʼn drie gedruk) en Hanru Liebenberg aan die voorpunt, en Raymond Rhule wat in die tweede helfte opgestuur is, het Lyon met 38 – 24 geklop.

* Die Pro14-reeks is reeds afgehandel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.