Seabelo eers sondebok, toe held

Seabelo Senatla (Foto: www.1skysports.com)

Seabelo Senatla was Sondag in die kwarteind van Wêreldrugby se sewesreeks in die Kaapstad-stadion die Blitsbokke se groot sondebok toe twee yslike foute van hom Fidji in beheer geplaas het.

Maar uiteindelik was dit die blitsige drieëvraat wat die drie gedruk het wat die wedstryd gewen en Suid-Afrika na die kwarteind laat deurdring het waar hulle 16:34 teen Nieu-Seeland te staan kom.

Fidji was dadelik op die aanval, en ʼn drie was ʼn voldonge feit toe Senatla se hoogvat ná net 26 sekondes ʼn drie verhoed het. ʼn Geregverdigde strafdrie en sy geelkaart het die Bokke onder druk geplaas en duskant twee minute was die Blitse, met ʼn man in die koelkas, 0-14 agter.

Toe kom Senatla terug, duik mis toe die Fidjiane wegbreek ná nog ʼn omkeerbesit van Suid-Afrika, en die grote Josua Vakurunabili gaan druk sy span se derde drie (5-21) nadat Werner Kok vroeër met goeie vaart uit die blokke uit, buite om die laaste verdediger geswenk en die Blitse op 5-14 in die prentjie gehou het.

Die Blitsbokke het in die eerste helfte totale beheer oor die besit gehad, maar omkeerbesit – en veral die ou-ou neiging om by die afbreekpunt nie bedag te wees op die oorstootkrag van die groter Fidjiane nie – het hulle duur gekos.

Hoe kan ʼn span wat net een enkele aangee gemaak het, voorloop teen ʼn teenstander wat die bal 30 keer gehanteer het? Maklik: dissipline by die afbreekpunte en omkeerbesit wanneer hulle geduik word.

♦ Rustyd was Fidji met 21-12 voor nadat Justin Geduld met die laaste beweging vir die Blitsbokke gaan druk het.

Toe was daar eintlik net een span in die tweede helfte. Fidji het wel ʼn bietjie meer besit as vroeër gehad, maar die Blitse het hulle nie weer by die afbreekpunte laat oorstoot nie, minder foute gemaak, geduld beoefen, beter hanteer en veral met goeie visie beïndruk.

Kwagga Smit se drie, en hoe hy van ʼn ingeoefende beweging na ʼn strafskop deur is sonder dat ʼn teenstander aan hom geraak het, verdien spesiale vermelding – net soos die oorslaan-aangee van Cecil Afrika na Senatla, toe albei die spelers op volle spoed was, 17-21.

Toe, weer uit eie gebied uit, word die Blitsbokke met ʼn drie deur Kalione Nasoko gestraf (17-26) voor daardie drie van Smit wat deur Geduld verdoel is (24-26).

Daar was net twee minute speeltyd oor toe Senatla ʼn losbal vorentoe gedribbel het en dit reg gespring het. Ná die doelskop was die Blitsbokke, met speeltyd so te sê verstreke, die eerste keer voor op 31-26.

Dus: 31 punte teen net vyf, oftewel vyf drieë teen net een, nadat hulle ná twee minute lelik in die knyp was.

Hierdie Blitsbokke wíl speel!

♦ Net soos Suid-Afrika het Nieu-Seeland in die laaste minute die heel eerste keer voorgeloop en Engeland met 17-12 geklop.

♦ In die ander twee kwarteindstryde het Kanada maklik met 35-7 teen Frankryk gewen en het die groot verrassing op Saterdag, die VSA met 12-28, groot pak teen Argentinië gekry.

Halfeindbepalings –
16:34 – Suid-Afrika teen Nieu-Seeland
16:56 – Kanada teen Argentinië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.