Sesnasies: Engeland klop Italië 31ste keer in ʼn ry

(Foto: England Rugby/Facebook)

Die gaping raak dalk kleiner, maar Engeland se rugbyspan het sy houvas oor Italië van 30 opeenvolgende oorwinnings tot 31 vergroot toe hy Saterdag in die Stadio Olimpicio in Rome sy Sesnasies-wedstryd met 27 – 24 gewen het.

Die Italianers was rustyd met 17 – 14 voor, hulle het enduit bly veg, hulle het een drie meer as Engeland (drie teenoor twee) gedruk en ook ʼn bonuspunt verower, maar ʼn oorwinning was hulle weer nie beskore nie.

Dalk het hulle te vinnig in die eerste helfte begin en het hul energie opgeraak, wat tot baie strafskoppe (weens ʼn gebrek aan dissipline) gelei het.

Die Engelse, wat erg deur ʼn rits beserings verswak is, het by hul basiese wedstrydplan gehou. Wurg die besoekers voor en agter die voordeellyn en die stryd is halfpad gewonne.

Hulle het ook ʼn hele paar nuwelinge ingespan, soos die 20-jarige Chandler Cunningham-South en die 21-jarige Fin Smith.

Nog ʼn nuweling, Ethan Roots, wat in Nieu-Seeland gebore is, is as speler van die wedstryd aangewys. Saam met die ervare Maro Itoje, Jamie George, Joe Marler en Ben Earl het hulle met tipiese en amperse verbeeldinglose Engelse rugby die oorwinning behaal.

Aan die ander kant, hoekom sal jy daaroor kla as jy 31 agtervolgende oorwinnings oor jou teenstander behaal?

Agterlangs was die heelagter Freddie Steward soms goud werd, terwyl Elliot Daly en Tommy Freeman goeie dinge gedoen het.

Dit was nie goeie wedstryd nie, want daarvoor was daar te veel foute aan albei kante en ʼn gebrek aan dissipline wat tot baie strafskoppe en twee geel kaarte gelei het.

Dit het Italië die duurste gekos, want die Engelse losskakel George Ford was in die kol met vyf strafdoele.

Daar was tog heelwat pitkos op die tafel vir Italië. Hulle is nie meer verbeeldingloos nie en probeer die bal wyd rek.

Die nuweling-afrigter Gonzalo Quesada kan dié span verder laat ontwikkel en wie weet, dalk breek hulle verloordroogte teen Engeland gou aan.

Puntemakers: Engeland 27 (14): Drieë: Elliot Daly, Alex Mitchell. Doelskop: George Ford. Strafdoele: Ford (5).

Italië 24 (17): Drieë: Alessandro Garbisi, Tommasso Allan, Monty Ioane. Doelskoppe: Allan (2), Paulo Garbisi. Strafdoel: Allan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.