Sesnasies: Hane pronk ook teen Wallis

(Foto: France Rugby/Facebook)

Wallis se rugbyafrigter, Warren Gatland, het voor Saterdag se kragmeting met Frankryk gesê dat dit die swanesang vir tot agt van sy spelers kan wees in die Sesnasies-reeks.

Dis een van die redes waarom Gatland hulle straks gekies het en ʼn behoorlike afskeidsgeskenk wou gee, maar daar was geen partytjie om dit te doen nie.

Dit het gevolg nadat Frankryk met 41 – 28 in Parys gewen het nadat hulle rustyd met 20 – 7 voorgeloop het.

Gatland is nou by ʼn kruispad. Gaan hy by sy gunstelingspelers hou wat oor die jare heen Wallis se trui trots gedra het, of gaan hy in die komende Wêreldbekertoerooi waag deur ʼn klomp jonger spelers vir die wolwe te gooi?

Gatland het eintlik geen ander keuse nie, hy sal by die meeste van sy goue oues moet hou omdat hy die afgelope paar maande nie te veel nuwe bloed wou inspan nie. Nie dat daar baie geskikte spelers in Wallis rondloop nie.

Dit was dus geen verrassing nie dat Frankryk die wedstryd gewen het.

Wallis het soos ʼn sneltrein begin en met 7 – 0 voorgeloop ná ʼn drie deur George North, maar vir byna die res van die eerste helfte moes hul bontstaan.

Ná rustyd was daar weer ʼn Walliese opflikkering, maar die Franse het met hul bonuspuntsege net genoeg gedoen om die agterdeur oop te hou om dalk die Sesnasieskroon voor Ierland weg te raap.

Die Franse is saam met die Iere, die Springbokke en All Blacks die groot gunstelinge om die Webb Ellis-trofee in die WB-toernooi vas te hou.

Die Franse span se gemiddelde ouderdom is slegs 26 en die span het gemiddeld maar 26 toetse gespeel.

Maar aan flair, geesdrif en vaardighede ontbreek daar min. Die Hane se pak kraai alte lekker en word aangevul deur ʼn briljante skrumskakel in Antoine Dupont en balvaardige agterspelers soos Gael Fickou, Romain Ntamack en Damian Penaud.

Hulle het boonop ʼn skopmasjien in die heelagter Thomas Ramos.

Op papier is hulle byna die volmaakte pakket.

Punte: Frankryk 41 (20): Drieë: Damian Penaud (2), Jonathan Danty, Uini Atonio, Gael Fickou. Doelskoppe: Thomas Ramos (5). Strafdoele: Ramos (2).

Wallis 28 (7): Drieë: George North, Bradley Roberts, Tomos Williams, Rio Dyer. Doelskoppe: Dan Biggar (3), Leigh Halfpenny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.