Sesnasies: Iere stamp Wallis ook uit hul pad

Ierland se Ciaran Frawley duik om ʼn drie te druk tydens die Sesnasies-wedstryd teen Wallis by die Aviva-stadion in Dublin (24 Februarie 2024) (Foto: Paul Faith/AFP)

Die komende toetsreeks tussen die Springbokke en Ierland kan die moeder van alle toetsreekse wees wanneer die twee beste spanne in wêreldrugby mekaar in twee toetse in Julie in Suid-Afrika pak.

Dit het die Iere Saterdag in Dublin met hul derde opeenvolgende bonuspuntsege in vanjaar se Sesnasies-reeks bewys toe hulle Wallis met 31-7 geklop het nadat hulle rustyd met 17-0 voor was.

Dit was dalk nie een van die Iere se heel beste vertonings nie, hoewel byna al die ander spanne by die Iere kan gaan leer oor balhantering en balverspreiding en hoe om vinnige besit te verkry en aan te wend.

En wees ook maar verseker dat die Iere se verdedigingspatroon al hoe hegter raak en dat hul plaasvervangersbank al hoe groter verskil maak.

Soms lyk dit asof die Iere te veel met die bal probeer speel en dit oordoen, maar dis hoe die krake in die verdediging onstaan, dis hoe die Iere en hul grootste voedingsbron Leinster jare lank reeds speel.

Wie kan teen drie bonuspuntoorwinnings in drie Sesnasies-wedstryde stry?

Wat wel kommerwekkend was, was dat die Iere twee geel kaarte (Tadhg Beirne en James Ryan) afgestaan het. Beirne se geelkaart het tot Wallis se enigste punte (strafdrie) gelei.

Die Iere staan gewoonlik baie min strafskoppe af en hulle raak nie aan die verkeerde kant van die skeidsregter se beslissings nie.

Maar Saterdag het die Italiaanse skeidsregter Andrea Piadi die Iere in die tweede helfte laat deurloop.

Aan die bonuskant was dit die Iere se 18de opeenvolgende oorwinning tuis en hulle het die rekord van Engeland van 11 agtereenvolgende Sesnasies-oorwinnings geëwenaar.

Wallis is besig om span te bou, om die stukkies te probeer optel ná tien nederlae in hul afgelope 11 toetse.

Hulle is ʼn jong span met talent, maar as jy nie voorspelers het wat die vaste fasette kan beheer nie en vir 80 minute speel nie, gaan dit nag bly.

Puntemakers: Ierland 31 (17): Drieë: Dan Sheehan, James Lowe, Ciaran Frawley, Tadhg Beirne. Doelskoppe: Jack Crowley (4). Strafdoel: Crawley.

Wallis 7 (0): Strafdrie (7 punte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.