Sewesafrigterskas word herrangskik

(Foto: Twitter.)

Teleurstellende uitslae op die sewesrugbyveld beteken dat SA Rugby (Saru) sy Blitsbok-afrigterskas so ʼn bietjie herrangskik het.

Sandile Ngcobo sal weer ʼn wakende ogie oor die opkomende sewestalent hou, terwyl Philip Snyman tot einde Julie (ná die Olimpiese Spele) die hoofafrigtersleisels van die nasionale sewesspan sal vashou.

Die veranderinge is op versoek van Ngcobo gemaak.

Suid-Afrika het ʼn uitstekende aanloop tot die sewesseisoen gehad toe hy die openingstoernooi tussen die duine van Dubai gewen het.

Maar daarna het die span ál vinniger op die glybaan van teleurstellende uitslae begin momentum opbou. Eers in Kaapstad, toe in Perth en toe in Vancouver en Los Angeles.

Die Blitsbokke is tans sewende op die amptelike HSBC-punteleer met 48 punte ná die vyf toernooie.

Indien Suid-Afrika nie die seisoen se aksie onder die voorste agt spanne afsluit nie, wink promosie-relegasie-wedstryde; iets wat ondenkbaar in die Blitsbokke se gloriejare was.

Daarbenewens het die span ook nog nie vir die Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer nie.

“Ons beskik oor ʼn talentvolle en ervare groep spelers, maar hulle het onderpresteer sedert hulle die silwerware in Dubai omhoog gehou het. Sedertdien het dinge uitslaegewys net verder agteruitgegaan,” het Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van Saru, gesê.

Oberholzer het sy waardering vir Ngcobo se eerlikheid uitgespreek en gesê hy verdien respek omdat hy die span se belange bó sy persoonlike ambisie gestel het.

“Ons sal voortgaan om in sy ontwikkeling as afrigter te belê en ons glo dat hy ʼn toekoms in ons opset het. Maar in die korttermynbelang van die span – en om kontinuïteit te verseker – het ons vir Philip die taak gegee om die span weer op die wenpad te kry.”

“Die Blitsbokke was vir baie seisoene ʼn helder lig in Suid-Afrikaanse rugby en ons wil graag weer sien dat hulle op alle suiers vuur.”

  • Hoeveel punte die Blitsbokke ná elke toernooi van die jongste HSBC-sewesreeks verdien het:

Dubai: 20 punte

Kaapstad: 10 punte

Perth: 12 punte

Vancouver: 4 punte

Los Angeles: 2 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Waar kry SA Rugby die geld om almal te betaal? Kyk net na Erasmus se groep afrigters en ander helpers.

Sobymykoolkop ·

Selde dat ń kwota aanstelling self vra om ” terug ” te staan. Sal natuurlik steeds sy astronomiese salaris kry terwyl die voorheen ” bevoordeelde” die werk moet doen.

piet ·

Nou kom ons kyk of die nuwe wit afrigter beter gaan vaar (sover ek weet is hy reeds by die span betrokke as ‘n hulp-afrigter in elk geval). Ek volg die toernooi en die meeste ander top- spanne het beter spelers, dis wat die probleem is. Daar is te veel ou hout in die span wat vervang moet word. Ons spannetjie val uit die bus uit omdat die ander spanne hulle beste spelers inbring met die oog op die Olimpiese Spele.

kragaap ·

Omtrent tyd. Binne twee seisoene blitsbokke gevat van êrens na nêrens. Sal selfde met 15 man span gaan as die huidige afrigter bedank. Onthou die dae van toetie…..

kragaap ·

Sekeres wat als aan die ras klok hang gaan soos ‘n pofadder in ‘n hoenderhok voel as die nuwe wit afrigter beter doen. Met die 15 man kode is die wit afrigter onverbeterlik….

piet ·

Kragapie – die Stormers was toe fluks ne…, bly maar die beste. Ek sal die ras ding gebruik omdat volgens die rassiste dit altyd die swart afrigter/spelers se skuld is as hulle verloor ne ongeag ‘n speler soos die beste Springbok-kaptein in Kolisi wat daar nog ooit was. Ek is net so bly dat daar nou ‘n wit ou aan die stuur is maar ek gaan jou verseker van wat ek van die span sover gesien het, is daar beter spanne so ek kan nie sien dat dit gaan verbeter nie. Sal ander ouens moet kies.

kragaap ·

Pietie – fluks, maar nie fluks genoeg op loftus nie. Die 7’s afrigter moes waai – help nie die blaam word op die spelers geplaas om kwota afrigters te beskerm nie die afrigter is veronderstel om die span te kies, so die stelling van “beter spanne” is snert. Wie praat van die 15 man bok kaptein ? Hom nog nooit op ‘n 7’s veld gesien nie ?

Casper ·

Nee Piet ander spanne het nie beter spelers nie,hulle volhard net met basiese beginsels van die spel,speel innoverend en konsentreer op spanne se sterkpunte.Spoed,balbesit en vaardighede wen vir jou wedstryde.Die blitzbokke het genoeg daarvan maar dit word nie gebruik nie.

piet ·

Casper – Volg jy die reeks? Ek volg dit nouliks (het al die wedstryde van al die toernooie vanjaar gekyk). Daar’s beter spanne met beter spelers, ons sal ander spelers moet kies. Jou afrigter kan hoe goed wees, hierdie huidige SA span gaan dit nie maak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.