Sharks klop stout Waratahs, Hurricanes ook bo

Foto ter illustrasie.

Dissipline is een van die hoekstene van rugby.

Jy kan nie daarsonder nie, veral as jy boonop nie jou les wil leer nie.

Dit het die Waratahs Saterdag in Sydney alte goed besef toe hulle met 23-15 deur Sharks in ʼn Superwedstryd gekelder is.

Dit was die Sharks se eerste sege oor die Waratahs nadat hulle agt keer agtereenvolgens in Sydney verloor het.

Die wedstryd was op ʼn meskant op 10-elk gebalanseer toe die Waratahs-slot Jed Holloway kort duskant die 50ste minuut die Sharks se vaskopstut, Thomas du Toit, met sy elmboog in die gesig getref het nadat Du Toit aan sy trui gerem het.

Geen versagtende omtandighede nie: ʼn rooi kaart vir Holloway en ʼn gele vir Du Toit.

Asof dit nie genoeg was nie, is die Waratahs-flank Jack Dempsey net hierna met ʼn geel kaart gestraf vir ʼn boorvat op Sbu Nkosi.

Dit het beteken dat die Sharks vir tien minute met 14 man (sonder Du Toit) moes klaarkom terwyl die Waratahs vir sowat nege minute met net 13 spelers (Holloway en Dempsey) moes swoeg en toe vir sowat 25 minute met net 14 spelers moes speel.

Is daar lig in die tonnel vir die Sharks met Curwin Bosch op losskakel in die plek van Robert du Preez?

Dit gaan nie oornag gebeur nie, maar Robert du Peez (hoofafrigter) sal van nou af met Bosch moet volhard. Die druk in Durban onder die ondersteuners en oudspelers is besig om te ontlont en daar kan net een wenner wees.

Die 22-jarige Bosch het nog skaafplekke, sy selfvertroue moet geknak wees omdat hy vir twee jaar oor die hoof (as losskakel) gesien is, maar dit kan van nou af net beter.

As dit nie gebeur, moet die afrigter tog sekerlik pa daarvoor staan?

Die Sharks se gevaarlike agterste driehoek word steeds gans te min ingespan en hul voorspeler-drywe en rolmale is soms te voorspelbaar, maar as hulle die dag behoorlik gaan vlamvat, behoede hul teenstanders.

Puntemakers: Sharks (23 (10): Drieë: Dan du Preez, André Esterhuiuzen. Doelskoppe: Curwin Bosch (2): Strafdoele: Bosch (3).

Waratahs 15 (10): Drieë: Jake Gordon, Bernard Foley. Doelskop: Foley (2). Strafdoel: Foley.

* In Wellington het die twee Barrett-broers, Jordie en Beauden Barrett, gewys dat die verpligte ruskans wat internasionale spelers moet kry, die moeite werd is.

Die Hurricanes het die Chiefs met 47-19 geklop nadat hulle rustyd reeds met 28-12 voor was.

Die Barrett-broers, wat ʼn hele paar dae in Fidji hul batterye gaan herlaai het, het binne die eerste tien minute die skaal in die ’Canes se guns laat swaai nadat Jordie twee drieë gedruk het.

Ai, dit moet darem lekker vir die All Black-afrigter, Steve Hansen, wees om te weet dat hy op Jordie Barrett as Ben Smith se heelagter-adjudant kan terugval noudat Damian McKenzie op die langtermyn-beseringslys is.

Die Barrett-broers, asoook ouboet Scott wat slot vir die Crusaders speel, laat die spel met hul vaardighede so maklik lyk.

Die Hurricanes (32 punte) is nou tweede op die algehele puntelys en soos sake staan, kan hulle ʼn tuiskwarteindstryd beklink.

In winderige Wellington gaan dit ʼn baie steil bult vir enige span wees om uit te klim, veral as die Barrett-broers die dag kook.

Puntemakers: Hurricanes 47 (28): Drieë: Jordie Barrett (2), Kane Leaupepe, TJ Perenara, Wes Goosen, Ardie Savea, Alesi Rayasi. Doelskoppe: Beauden Barrett (6).

Chiefs 19 (12): Drieë: Luke Jacobsen, Ataata Moeakiola, Lachlan Boshier. Doelskoppe: Marty McKenzie (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Die konferensiestelsel plaas die Sharks met 26 en Rebels met 24 punte 2de en derde op die agehele punte leer en die Hurricanes met 32 vierde.Dit is weereens ‘n bewys hoe belaglik die konfrensiestelsel is.

willem botha ·

Wat gaan aan met sa rugby hou die manne terug oor dit wêreld beker tyd is of is die standaard nie wat dit moet wees nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.