Sjoe, dis al 25 jaar gelede

Pieter Hendriks. Foto: YouTube.

Dit voel byna soos gister, maar daar het reeds 25 jaar verstryk sedert die glorieryke Wêreldbekertoernooi van 1995.

Dis drie geslagte van rugbyspelers, dis 11 nasionale afrigters later en altesaam 287 spelers het sedert Garry Pagel (Springbok nr. 628 in 1995) en Scarra Ntubeni (Springbok nr. 915 in 2019) sedertdien die Springboktrui oor die kop getrek.

Maar vra maar vir enige ondersteuner om die span wat die All Blacks op 24 Junie 1995 met 15-12 in die eindstryd op Ellispark geklop het, op te noem.

Die oorgrote meerderheid sal dit steeds regkry, maar hoeveel van ons onthou nog 1999 se span, en wat van 2003 se Bokke?

Vra maar vir enige ondersteuners oor Joel Stranksy se skepdoel, oor hoe Jonah Lomu aan bande gelê is.

Die Springbokke het net een opwarmwedstryd, op 13 April 1995, op Ellispark gespeel toe hulle Samoa met 60-8 afgeransel het.

Die oorspronklike WB-groep was gekies, maar toe doen Chester Williams ʼn dyspierbesering op wat die deur vir Pieter Hendriks oopgelaat het om hom te vervang.

Die Suid-Afrikaanse rugbybase was in sak en as, want oral waar jy gegaan het, het Williams se gesig op baniere gepryk. Hy was die gesig van die span, van die WB-toernooi.

Maar ironies genoeg onthou ek nog hoe die jong kannetjies destyds in ʼn township om Mark Andrews saamgedrom het toe die Bokke ʼn kliniek daar aangebied het.

Andrews kon vlot Xhosa praat en Williams nie, en dis hoekom Andrews dié dag meer gewild was.

Die openingseremonie en die eerste wedstryd teen Australië het op ʼn Donderdagmiddag, 25 Mei, op Nuweland plaasgevind.

Die kaartjies was weke lank voor die tyd uitverkoop en Nuweland was volgepak.

Die Bokke, wat in die ou Holiday Inn in Woodstock gebly het, kon nie beter voorbereid gewees het nie. Hulle was superfiks, die spangees was tops en daar was geen verrassings in die opdrafspan nie.

Die opbou het seepglad verloop danksy die bekwame en gewilde spanbestuurder Morné du Plessis  en mediaskakelman Edward Griffiths.

Aan die ander kant het die onweerswolke oor die Wallabies begin saampak, want daar was ʼn hele paar veterane van 1991 se triomf wat steeds in die span was en dalk nie die pas sou kon volhou nie.

Die openingseremonie het jou trots as Suid-Afrikaner laat voel en ʼn rukkie later toe Hendriks om David Campese gewals het, het jou bloed groen gebruis.

Binne ʼn oogwink was dié geskiedkundige dag verby en die eindtelling van 27-18 sal in die annale aangeteken bly as een van Suid-Afrika se roemrykste seges.

Was dit werklik 25 jaar gelede, dit voel dan byna soos gister?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Wat ‘n dag was dit nie! Toe Hendriks om Campo drawwe het ons op en af gespring. Een van die beste vleuel driee ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.