Skotte wil vuur met vuur teen Rooi Drake beveg

Huw Jones vier ’n drie in een van die vorige toernooie. (Foto: Malcolm Mackenzie/ProSportsImages/DPPI via AFP)

Skotland se Sesnasies-veldtog begin Saterdag teen Wallis op die Principality-stadion in Cardiff en volgens die doedelsakblasers se Huw Jones skrik hulle nie meer sommer vir die Rooi Drake se tuisveldvuur nie.

Die Skotte het immers in die verlede gewys dat hulle met goeie spanne weg van die huis kan afreken. In die afgelope paar weergawes van die Europese rugbytoernooi het hulle vir Engeland op Twickenham en Frankryk in Parys geklop.

“Ons het nou gewys dat ons spanne op hul tuisveld kan klop. Ons het dit ʼn paar keer reggekry en dit maak dinge so ʼn bietjie makliker vir die komende wedstryd,” het Jones gesê.

Die 30-jarige agterspeler, wat so ’n paar jaar gelede nog in die kleure van die Stormers te siene was, weet egter dat dit gʼn maklike taak in Cardiff sal wees nie.

Skotland het sy laaste 11 wedstryde op die Principality-stadion verloor.

“Ons wil die passievolle Walliese ondersteuners stil speel. Daarom is die aanloop tot die wedstryd – veral die eerste 20 minute – van groot belang. Ons kan nie bekostig om punte op ʼn skinkbord weg te gee nie, terwyl ons hulle onder druk moet plaas.”

Volgens Jones is die twee spanne al goed vertroud met mekaar se wedstrydbenaderings.

“Ons weet watter tipe rugby hulle sal wil speel. Ek vermoed dat Wallis ons met skoppe sal peper en nie veel tyd in hul halfgebied sal mors nie. Ons sal doodeenvoudig vuur met vuur moet beveg en rugby in hul halfgebied speel.”

WP Nel beseer

Skotland sal egter sonder die dienste van die ervare WP Nel moet klaarkom.

Die 37-jarige stut het sy nek in een van Edinburgh se wedstryde seergemaak en hy het nie saam met die res van die span na Spanje vir ʼn voorbereidingsessie gereis nie.

Skotland se afrigtersgroep hou egter duim vas dat die oudleerder van HTS Drostdy weer binnekort gereed vir aksie sal wees.

  • Onlangse uitslae tussen die twee spanne:

11 Februarie 2023: Skotland 35 – 7 Wallis

12 Februarie 2022: Wallis 20 – 17 Skotland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.