Skrums kelder die Kings teen Connacht

Heel onder. Dis waar die Southern Kings steeds ná nege van hulle 21 ligawedstryde in die Pro14-reeks is.

Dit is Sondag met mening ingevryf dat ʼn stewige skrum onontbeerlik op dié vlak is toe die Kings, weens hul voortgesette probleme met hul stutte se beserings, wéér in dié faset gesukkel en met 14-31 teen Connacht slae gekry het.

Dinge kon só anders verloop het, maar die slag was eintlik al teen rustyd gelewer toe die telling reeds 24-7 in Connacht se guns was.

ʼn Geelkaart vir volgehoue ineenstortings by die skrum aan Lupumlo Mguca en sy vervanging met Alulutho Tshakweni, wat ook nie sy man kon staan nie met ʼn gevolglike strafdrie, het die binne twee minute net duskant rustyd telling van 10-7 na 17-7 laat klim.

Vyf minute later het dit 24-7 geword ná ʼn pragtige agterlynbeweging en lopie van die vleuel Matt Healy en was die slag teen rustyd al feitlik gelewer.

In die tweede helfte het die Kings net sewe punte afgestaan en self ook gaan druk ná ʼn breekslag deur Dries van Schalkwyk, nadat Mguca ná sy geelkaart die bres geslaan en Ntabeni Dukisa gaan druk het.

Masixole Banda se doelskop het die gaping na tien punte laat krimp en met 25 minute se speeltyd oor was die Kings terug in die prentjie, maar die wendroom het in die 61ste minuut met Connacht se enigste punte ná rustyd verdwyn toe Paul Boyle ʼn voorspelerdrie gaan druk het.

Die telling het na 31-14 verander en dit is hoe die manne sowat 20 minute later van die veld is.

♦ Die Kings se ou-ou probleem, hul dissipline, was weer nie waffers nie, hoewel die 15 strafskoppe darem ook die probleme by die skrum ingesluit het. Hul verdediging was skaflik, hulle het meer en verder as die besoekers met die bal gehardloop, en in die geheel was dit ʼn bemoedigende vertoning.

Maar jy moet kan skrum…

Puntemakers ‒

Kings (7) 14: Drieë: Masixole Banda, Ntabeni Dukisa. Doelskoppe: Banda (2).
Connacht (24) 31: Drieë: Cian Kelleher, strafdrie (7 punte), Matt Healy, Paul Boyle. Doelskoppe: Jack Carty (2), David Horwitz (1). Strafdoel: Carty (1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.