Smith terug in Engeland-groep

Engeland se Marcus Smith. Foto: Ian Kington/AFP.

Steve Borthwick het ʼn groep van 36 spelers vir die naweek se Sesnasieswedstryd teen Frankryk op Twickenham gekies. Engeland is tans derde op die amptelike punteleer, terwyl die Hane die vierde plek beklee.

Die 24-jarige Marcus Smith is weer terug in die groep nadat hy vroeër weggelaat is om vir George Ford plek te maak.

Die jong losskakel het intussen stewige spel vir Harlequins in hul goeie vertoning teen Exeter gelewer waar hy met net een stelskoppoging skeefgekorrel het, terwyl hy ook twee van sy spanmaats se driedruklopies van stapel gestuur het.

En volgens Britse mediaberigte het Smith presies gedoen wat Borthwick – wat die wedstryd bygewoon het – van hom verwag het.

“Toe ek Sondag met Steve gepraat het, het hy vir my gesê dat hy graag sal wil sien hoe Marcus sy stempel op die wedstryd afdruk en sy teenwoordigheid op die veld laat geld. Hy is immers die spilpunt waarom ons aanvalsplanne draai en hy is ʼn baie talentvolle speler,” het Tabai Matson (Harlequins-hoofafrigter) gesê.

Borthwick het juis in die aanloop tot die Harlequins-wedstryd aangevoer dat Smith ʼn bietjie meer speelkans moet kry.

“Hy het maar min geleenthede op die veld in die afgelope paar weke gekry. Hy sal beslis weer terug in die nasionale groep wees en hy weet dat ek hom op sy skerpste in die Engeland-trui wil sien,” het die Rose-afrigter gesê.

Engeland-groep vir Frankryk-wedstryd:

Voorspelers: Ollie Chessum, Dan Cole, Ben Curry, Alex Dombrandt, Tom Dunn, Ben Earl, Ellis Genge, Jamie George, Joe Heyes, Nick Isiekwe, Maro Itoje, Courtney Lawes, Lewis Ludlam, David Ribbans, Bevan Rodd, Sam Simmonds, Kyle Sinckler, Mako Vunipola, Jack Walker en Jack Willis.

Agterspelers: Henry Arundell, Owen Farrell, Tommy Freeman, George Ford, Ollie Lawrence, Max Malins, Joe Marchant, Alex Mitchell, Cadan Murley, Henry Slade, Marcus Smith, Freddie Steward, Manu Tuilagi, Jack van Poortvliet, Anthony Watson en Ben Youngs.

Sesnasies-punteleer:

  1. Ierland: 15 punte
  2. Skotland: 10 punte
  3. Engeland: 10 punte
  4. Frankryk: 10 punte
  5. Italië: 1 punt
  6. Wallis: geen punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.