Só gaan Loftus leegloop

Die Blues en die Blou Bulle sê mekaar die stryd aan. (Foto: Facebook/Blou Bulle)

Die Bulls het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld (weer) hul rieme styfgeloop toe hulle in die doodsnikke ná ʼn strafdoel deur die Blues se losskakel, Otere Black, met 23 – 21 in hul Superrugbywedstryd gekelder is nadat hulle rustyd met 11 – 8 voor was.

Die Bulls was kort voor einde nog met 21 – 20 voor nadat Jeandré Rudolph ʼn drie gedruk het nadat die ongedissiplineerde Blues se agtsteman, Hoskins Sotutu, in die koelkas beland het. Vroeër het Jonathan Ruru ook ʼn geelkaart gekry.

Die Bulls moes die kragmeting reeds vroeër vasgeknoop het, maar hoe op dees aarde kan jy wen as jy ʼn strafdoel (hoek toe) nie uitskop nie, gevolg deur ʼn opvolgskop wat agter die doellyn uit is met speeltyd byna verstreke en jou teenstander met 14 man?

Hoe kan jy wen as jy nie ʼn hoë skop kan hanteer nie wat direk tot die Blues se wendrie gelei het?

Ja, die nat bal en reënweer het ʼn groot rol gespeel, want die tuisspan kan nie kwalik geneem word dat hulle in sulke toestande gesukkel het nie.

Maar daar word geskimp dat Suid-Afrika se rugbybase wil oorskuif Noordelike Halfrond toe. Om in sulke toestande week na week te speel?

Kyk maar hoe vorder die Cheetahs en die Kings. Is dit ons voorland?

Die Blou Bulle in aksie. (Foto: Facebook/Blou Bulle)

Dit was boonop ʼn swak Blues-span, sonder dissipline, sonder Rieko en Akira Ioane, sonder Sonny Bill Williams wat rugbyliga speel.

Dit slaan ʼn mens dus dronk dat Beauden Barrett die Hurricanes vir die Blues verruil het, want sy spel kan ʼn groot insinking toon omdat die spelers om hom nie die nodige vaardighede het nie.

Wat staan die Bulls se afrigter, Pote Human, te doen?

Moet hy die koppe laat rol nadat die span tweede laaste is met net een punt na drie wedstryde?

Kan hy die span versterk? Moet hy Morné Steyn, wat in die eerste vier wedstryde begin het en glad nie swak vertoon nie, nog ʼn kans gee?

Die kalf is in die put, Loftus is besig om leeg te loop en ek glo nie die nuwe eienaars, mnre. Motsepe en Rupert, gaan baie ingenome met die Bulls wees nie.

Dus moet daar maar hand in eie boesem gesteek word.

Puntemakers: Blues 23 (8): Drieë: Mark Telea, Tom Robinson, Stephen Perofeta. Doelskop: Otere Black. Strafdoele: Black (2).

Bulls: 21 (11) Drieë: Morné Steyn, Jeandré Rudolph. Doelskop: Manie Libbok. Strafdoele: Steyn (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Herman ·

Te veel politiek, raak ontslae van die afrigter en die ou manne, kry nuwe afrigter Pote het sy dae gehad dit is tyd om aan te beweeg.

SomeOne ·

verduidelik: hoe werk dit, een dag is die blou T.b……..lle onstuitbaar, en die volgende keer so pateties soos ‘n boks vol gemors in ‘n tuimeldroer

Scholtz ·

Wie ookal wen of verloor, daar is altyd mense wat bly is en mense wat teleurgesteld is. Ek kies om bly te wees saam met die mense wat bly is. So, ek is bly saam met die Blues-span en die Blues-ondersteuners dat hulle ‘n oorwinning hier kon behaal het.

Spearhead ·

Die eerbare ding om te doen is vir Pote om te bedank. jou is styl van afringting is vervelig en voorspelbaar. Al die teenstaanders ken al die bulle se manier van speel. Jimmy Stonehouse moet nader getrek word.

Libbok was ook nie antwoord toe hy opgekom het nie. Die toeskouers wou hou nou in aksie sien maar hy was nie beter as Morne nie. Papier het ‘n verskil gemaak om van Zyl te vervang wat so onhandig is en oor sy eie voete val.

Die Bulle lyk nie of hulle op die veld gaan om hulle spel af te wissel wanneer dit nodig is nie.

Ek sal die kapteinskap die seisoen vir Josh Strauss gee.

As ek so na die rooster kyk, lyk dit nie of die Bulls die volgende 4 of 5 wedstryde gaan wen nie. As die bulls nie hulle sokkies optrek nie gaan ons vir die laaste plek met die Sunswolves meeding.

Marius vd Westhuizen het nie ‘n goeie rekond saam met die Bulle nie en het gister weer die ontkant reêl nie na wense toegepas. Daar was ‘n paar ander beslissings ook wat eerder komies was.

Sterkte Bulle.

johan ·

Kom ons is nou maar eerlik daar is heeltemal te veel rugby. Super reeks, 4 nasie, curriebekker, vodacom beker en dan nog die toetse aan die einde van die jaar.

commontar ·

Stem saam. Maar was is 4 nasie? Ek het dit nog nooit gesien nie?

Adam Adriaan ·

Ja daar is net een ding wat die bulle nodig het en dit is twee nuwe slotte. Een vir die voorhek en een vir die agterhek, van Loftus

DERICK ·

Die probleem is die BBRU koop “has beens” spelers wat al oor die muur is, en wat ander unies nie wil he nie. Hulle was so 5 jr terug goed maar nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.