Springbokflanke: Ellis en Greyling was die kersie op die koek

Jan Ellis. Foto: Facebook.

Om keurder te wees is geen maklike taak nie, want daar sal altyd verskille wees.

Dis hoekom gevestigde kombinasies altyd help, want spelers wat mekaar aanvul en op dieselfde golflengte is, kry in baie gevalle die regmerkie.

Dink maar Osche en Lategan, Ellis en Greyling, Pienaar en Kruger en Botha en Matfield.

Die flank-kombinasie van Jan Ellis en Piet Greyling was een die Springbokspanne tussen 1967 en 1972 se grootste bates. As wenkombinasie was hulle in Springbokspanne wat die Franse in 1967 met 3-1 geklop het, die Britse Leeus in 1968 met 3-1 verslaan het, die Franse (in Frankryk) in 1968 met 2-0 geklop het, die Wallabies in 1969 met 4-0 pak gegee het, die All Blacks in 1970 met 3-1 geskok het en die Wallabies (in Australië) met 3-0 verslaan het.

Dit was teen van die grootste geeste in wêreldrugby, flanke soos Walter Spanghero, Ian Kirkpatrick, Alex Wyllie, Tom Lister, Rodger Arneil en Greg Davies.

Ja, hulle was aan die kleinerige kant vir moderne rugby (Greyling het skaars 90 kg geweeg) en ja, hulle het selde in die lynstane gespring, maar moenie appels met pere vergelyk nie.

Hoe groot was Rocky Marciano en Cassius Clay (nog voordat hy sy naam na Muhammad Ali verander het)?  Kan enige huidige opgeblase, oorgewig hedendaagse swaargewigbokser vir hulle kers vashou?

Greyling het altyd na die bal toe gespeel, hy het onder in die losskrums gewoel, sy teenstanders voos geduik terwyl Ellis op sy beste was wanneer hy jakkalsdraaie met die bal in die een hand gemaak het. Dit was ongekend in daardie dae.

Naas hom het straks net Bob Skinstad en Joe van Niekerk dieselfde talente gehad het, maar Ellis was die meester.

Watter ander speler kan daarmee spog dat ʼn poeding na hom vernoem is?

Francois Pienaar en Ruben Kruger was twee van die kroonjuwele van die Springbokspan wat in 1995 die Wêreldbeker gewen het. Kruger was soos Greyling op die veld, stil, hard, koud en genadeloos, terwyl Pienaar ander talente gehad het.

Suid-Afrika het nog altyd skitterflanke gehad. Dink maar aan Pieter-Steph du Toit, wat in enige huidige wêreldspan sal stap, aan Schalk Burger wat altyd verwoesting gesaai het, aan ander ysters soos Juan Smith, Gert Smal, Martin Pelser en Burger Geldenhuys.

Ja, dalk was van hulle beter as individue, veral in die huidige opset, maar as flank-kombinasie het Ellis en Greyling nie gelyke gehad nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Wie sal ooit vergeet, Gerhard Viviers se “Jannie, Jannie, Jannie….!! Ai maar dis mooi ” …….

Michael 1 ·

Daar was so baie uitstekende flanke ek sal nie vandag een kan uitsonder sonder om iemand te na te kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.