Steve help net sy goeie vriend Eddie

Steve Hansen en Eddie Jones. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Steve Hansen, die legendariese All Blacks-afrigter, het ingestem om die sukkelende Wallabies-rugbyspan ʼn bietjie touwys in aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk te maak.

Die 64-jarige Hansen, wat 93 van sy 107 toetse aan die stuur van die All Blacks gewen het, moes intussen vure doodslaan nadat sy besluit spelers en selfs die Nieu-Seelandse eerste minister onkant betrap het.

“Ek wil net almal gerusstel dat ek nie deel van die Wallabies-opset vir die Wêreldbeker is nie,” het hy in ʼn onderhoud met Newstalk ZB gesê.

Volgens Hansen sal hy net vir ʼn paar dae die wêreld deur ʼn Aussie-bril beskou nadat Eddie Jones – “ʼn goeie vriend” – sy hulp ingeroep het om te kyk of hy op die regte koers met die span is.

“Rugby is groter as enigiemand en ek is oukei om dit te doen. As jy vir iemand werk, word jy betaal en ek werk tans beslis vir niemand nie.”

Australië het weliswaar hul man in die tweede Bledisloe-kragmeting teen die All Blacks in Dunedin gestaan, maar Jones kon tot dusver nie ʼn wedstryd saam met die span wen nadat hy in Januarie as die Wallabies se hoofafrigter aangewys is nie.

“Ek is hier as ʼn vriend; goeiste, dit is skaars 24 uur. Persoonlik glo ek dat die Aussies geen probleme het nie. Dis ʼn jong span wat by hul afrigter se planne inval.”

Vroeër kon jy vir Dan Coles met ʼn veertjie omtik toe hy die nuus van Hansen se “verraad” gehoor het.

“Dit maak ʼn bietjie seer as ek eerlik moet wees. Ek is eintlik stomgeslaan – hy is ʼn All Blacks-ikoon. Dit is teleurstellend, maar daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie,” het die haker gesê.

Hansen was aan die stuur van die All Blacks-groep wat in 2015 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het en hy het vir Coles op haker vir die eindstryd teen die einste Aussies gekies.

“Steve is ʼn baie goeie mens. Hy is tans nie deel van ons groep nie en hy kan seker vir Eddie bystaan. Hopelik verklap hy nie al ons geheime nie, maar ek glo dat hy alles met die nodige respek sal hanteer,” het Coles afgesluit.

Op sy beurt het Chris Hipkins, Nieu-Seelandse eerste minister, geskerts dat Hansen sy burgerskap kan kwyt wees. Hy het egter baie vinnig bygevoeg dat hy net die verslaggewers se been trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.