Stormers betaal duur teen London Irish

Foto: Hansie Linde.

Vyf punte in die sakkie, maar drie spelers op die krukkelys.

Dit was die somtotaal van die Stormers se oorwinning van 34-14 oor London Irish in die Europese Kampioenebeker-reeks Saterdagaand in die Kaapstad-stadion.

Nadat die Stormers verlede week deur die Franse Clermont-span geboelie is, was hulle met die rug teen die muur. Hulle het met geen punte uit Frankryk teruggekeer nie en ’n oorwinning oor London Irish, wat gewemel het van oud-Wallabies, oud-Suid-Afrikaners, Argentynse Poemas en ’n Fidjiaan, was ononderhandelbaar.

Die Stormers sal eers Maandag die erns van die beserings aan die vleuel Leolin Zas, die senter Ruhan Nel en die slot Salmaan Moerat weet.

Dis ’n probleem wat nog nie handuit geruk het nie, maar die Stormers speel komende Vrydagaand teen die uitgeruste Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap en sal hul beste voet wil voorsit.

Die Bulls se afrigter, Jake White, het juis sy “B-span” na Devon gestuur om die Exeter Chiefs te pak, want hy wil die keur van blou teen die Stormers inspan.

Die Stormers was teen London Irish soms vuurwarm, maar tog ook in die tweede helfte soms yskoud.

Toe hul spelskeppers, soos Manie Libbok, Damian Willemse, Nel, Zas en Clayton Blommetjies in die eerste helfte op loop gegaan het, was dit pure plesier.

Foto: Hansie Linde.

Saam met die verwoestende agtsteman Hacjivah Dayimani, Willie Engelbrecht, Marvin Orie, Deon Fourie, Steven Kitshoff en Frans Malherbe wat voorlangs oorheers het, was die Kaap weer Hollands.

Die spanlede het egter onverklaarbaar in hul doppe gekruip. Die televisieskeidsregter het twee drieë van London Irish (heeltemal tereg) afgekeur nadat die bal op die doellyn verloor is.

Die laaste “drie” sou London Irish nog nader laat kruip het, want die telling sou in daardie stadium 27-21 gewees het. Dit het die Stormers egter in staat gestel om ’n bonuspunt-drie te druk.

Die groot vraag is nou hoe die Stormers (asook al die ander Suid-Afrikaanse spanne) hul spelers gaan bestuur, die nodige ruskanse gee en hul aansprake in albei reekse behou.

Kan hulle met hul fisieke spelpatroon volhou? Watter reeks en wedstryde is die belangrikste, en is hulle, soos die Bulls, bereid om wedstryde in te boet om spelers vars te hou?

 Puntemakers: Stormers 34 (10): Drieë: Willie Engelbrecht, Hacjivah Dayimani, Leolin Zas, Junior Pokomela. Doelskoppe: Manie Libbok (4). Strafdoele: Libbok (2).

London Irish 14 (0): Drieë: Michael Willemse, Will Joseph. Doelskoppe: Paddy Jackson (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.