Stormers is gereed vir Bulls-aanslag

Die Bulls en die Stormers het al vir ’n paar baie goeie tweestryde gesorg. Foto: GB Jordaan.

Suid-Afrika se voorste twee spanne op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer – die Bulls en die Stormers – meet Vrydagaand kragte in Kaapstad.

Met die Pretorianers wat hul sogenaamde “B-span” vir hul Heineken-kampioenebekerwedstryde kies, sal Jake White heel waarskynlik sy grofgeskut vir die Suid-Afrikaanse derbykragmeting uitstal.

“Ons weet nie eintlik wat die Bulls se benadering vir hierdie wedstryd sal wees nie,” het Rito Hlungwani, die Kapenaars se voorspelerafrigter, gesê.

“Gaan hulle weer van hul spelers ʼn ruskans gee of nie? Hoewel ons nie weet hoe die Bulls-span gaan lyk wat Vrydagaand op die veld gaan draf nie, sal ons vir hulle gereed wees.”

In teenstelling met die Pretorianers kies die Stormers gereeld dieselfde span vir enige wedstryd – maak nie saak of dit VRK of die Kampioenebeker is nie. Terselfdertyd skroom hulle ook nie om aanvallende rugby te speel nie en hulle het al met ʼn paar pragdrieë te voorskyn gekom.

“Ons glo in ons wedstrydplan en ons sal moet wag om te sien wie se benadering die beste werk. Ons is tevrede met ons voorbereiding; nie net vir hierdie wedstryde nie, maar ook vir die res van die seisoen.”

Die wedstryd begin Vrydag om 19:15 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 43 punte ná nege wedstryde
  2. Bulls: 34 punte ná nege wedstryde
  3. Stormers: 34 punte ná agt wedstryde
  4. Ulster: 31 punte ná agt wedstryde
  5. Lions: 24 punte ná agt wedstryde
  6. Edinburgh: 23 punte ná nege wedstryde
  7. Cardiff: 22 punte ná nege wedstryde
  8. Munster: 22 punte ná nege wedstryde
  9. Glasgow Warriors: 20 punte ná agt wedstryde
  10. Sharks: 19 punte ná sewe wedstryde
  11. Connacht: 19 punte ná nege wedstryde
  12. Benetton: 19 punte ná nege wedstryde
  13. Dragons: 16 punte ná nege wedstryde
  14. Ospreys: 14 punte ná nege wedstryde
  15. Scarlets: 9 punte ná nege wedstryde
  16. Zebre: 4 punte ná nege wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.