Stormers klop Lions wéér in bykomende tyd

Foto: GB Jordaan

Ja, die Stormers het weliswaar vanmiddag gewen toe hulle emmersvol deursettingsvermoë getoon het om die wendrie in die 82ste minuut op Emirates Airline-park teen die Lions te druk, maar mens kry ook die tuisspan effens jammer.

Want dit is nou die tweede keer in die afgelope paar Superrugby-kragmetings tussen dié twee spanne waar die Kapenaars in die doodsnikke die Johannesburgers se harte gebreek het.

Verlede jaar het Herschel Jantjies saam met Egon Seconds (in ’n mindere mate) vir die Lions-trane op Nuweland gesorg, terwyl Ruhan Nel vandag vir die nat sakdoeke verantwoordelik was.

As dié twee Stormers-seges met ’n verhouding vergelyk kon word, sou die Lions waarskynlik nou al hul tasse gepak het om Engels oorsee te gaan gee; blykbaar werk dit vir gebroke harte.

Steven Kitshoff se Stormers het ’n klipharde Suid-Afrikaanse derby met 33 – 30 gewen nadat die Lions in die 79ste minuut nog met 30 – 26 voorgeloop het.

Maar die Stormers het op ’n manier die bal in die hande gekry, kop gehou en Nel het heel rustig oor die Lions-doellyn gehardloop om die wendrie te druk.

Tog verdien die Lions ook lof vir die wyse waarop hulle in die tweede helfte teruggeveg het; die Stormers het immers op ’n stadium ’n gemaklike voorsprong van 26 – 15 geniet.

Willem “Bone Collector” Alberts het egter dadelik sy teenwoordigheid vir die tuisspan laat geld toe hy in die 62ste minuut sy verskyning op die veld gemaak het.

Die rateltaai voormalige Springbok-losvoorspeler het met ’n paar kraglopies en een of twee klipharde duikslae vorendag gekom om die Kapenaars op die agtervoet te plaas.

Dan het Elton Jantjies sy mojo gevind en hy het met ’n skitterende drie en ’n ewe briljante strafskop die momentumpendulum beslis in die Lions se guns geswaai.

Tog was die Stormers vir ’n groterige gedeelte van die wedstryd baie beter as die Lions gewees en hulle kanniedood-houding is welverdiend beloon.

Daar is darem iets wat die Lions-ondersteuners sal laat glimlag; hulle het gesorg dat die Kapenaars se perfekte verdedigingsrekord in die slag gebly het. Hulle skrumwerk gaan hulle egter nog lank kopseer gee indien daar nie vinnig ’n verbetering is nie.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Juarno Augustus, Godlen Masimla, Sergeal Petersen, Ruhan Nel. Doelskoppe: Damian Willemse, Jean-Luc du Plessis. Strafskoppe: Willemse (3).

Lions: Drieë: Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Elton Jantjies. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafskop: Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria M S ·

Ruhan Nel en Jean-Luc, julle is ysters, saam met Steven en die res van my Stormers span! Eks baie trots op julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.