Stormers, Leinster speel gelykop in Dublin

Die Stormers en Leinster het gelykop in Dublin gespeel. Foto: Twitter.

ʼn Springbokbelaaide Stormers-span het Vrydagaand gelykop met 22-elk teen Leinster op die RDS-arena in Dublin gespeel.

Toegegee, in rugby word ʼn gelykop uitslag met ʼn sussie-soen-oomblik vergelyk, maar die Kapenaars kan trots wees op hierdie uitslag; dit gebeur nie aldag dat Leinster nie as oorwinnaars van die veld stap nie.

Die Ierse reuse se laaste nederlaag was in verlede jaar se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd teen ʼn begeesterde Bulls-span gewees en selfs al was hulle nou sonder hul Sesnasies-sterre is hulle steeds gedugte teenstanders.

Hulle speel immers op hul tuisveld en hulle is loshande die voorlopers op die VRK-punteleer.

Tog was dit die besoekers wat die septer in die eerste helfte geswaai het.

Die Springbok-voorry van Steven Kitshoff, Joseph Dweba en Frans Malherbe het gesorg dat die Kapenaars hul man in die skrums gestaan het, terwyl Manie Libbok weer op sy skeppende beste was.

Die 25-jarige losskakel het die Stormers se eerste drie gedruk ná sy kul-jou-hier-kul-jou-daar-lopie die Leinster-verdedigers na lug laat gryp het, terwyl hy ook vir Suleiman Hartzenberg weggestuur het om sy span se tweede drie van die helfte te druk.

Binne ʼn oogwink het die Stormers ʼn welverdiende voorsprong van 17–0 opgebou en hul ondersteuners het uiteindelik ʼn antwoord op Jo Black se vraag gehad: Hulle het geweet wat hoop is.

Maar Leinster is nie verniet die topspan in die kompetisie nie en hulle het direk vóór en ná rustyd punte aangeteken.

Daar was skaars 20 minute se spel in die tweede helfte verby of hulle het skielik met 22–17 voorgeloop.

Boonop het Hartzenberg ʼn geel kaart gekry en die Kapenaars moes hul teenstanders vir ʼn ruk met net 14 spelers op die veld aandurf.

Libbok het egter ander planne gehad en sy steekskoppie het net reg vir ʼn vlieënde Clayton Blommetjies gespring.

Ja, die tuisspan se Harry Byrne het met ʼn paar van sy stelskoppogings misgekorrel, maar die Kaapse span kan sy kop omhoog hou.

Hulle het iets vermag wat nie baie spanne in Dublin regkry nie.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Manie Libbok, Suleiman Hartzenberg en Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Libbok (2). Strafskop: Libbok.

Leinster: Drieë: Michael Milne, Scott Penny, Robb Russell en Max Deegan. Doelskop: Harry Byrne.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 74 punte
  2. Stormers: 61 punte
  3. Ulster: 54 punte
  4. Glasgow Warriors: 49 punte
  5. Munster: 47 punte
  6. Bulls: 43 punte
  7. Sharks: 41 punte
  8. Connacht: 39 punte
  9. Cardiff: 39 punte
  10. Benetton: 38 punte
  11. Lions: 33 punte
  12. Edinburgh: 32 punte
  13. Ospreys: 30 punte
  14. Scarlets: 29 punte
  15. Dragons: 19 punte
  16. Zebre: 10 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.