Stormers vat in tweede helfte vlam

Die Stormers het Saterdag teen die Franse ASM Clermont-span gespeel. (Foto: Hansie Linde)

Twee meesterskuiwe vroeg in die tweede helfte deur John Dobson, afrigter van die Stormers se rugbyspan, het Saterdagaand in die Kaapstad-stadion die deur vir die tuisspan oopgemaak om sy onoorwonne status tuis in die Europese Kampioenebekerreeks te behou.

Die Stormers, wat rustyd met 3-6 teen die Franse ASM Clermont-span agtergeloop het, het in die tweede helfte na die hoogste rat oorgeskakel en met 30-16 gewen.

Hulle het vier puik drieë gedruk en ʼn bonuspunt verower.

Clermont se fokus was in die eerste helfte om bloot te verdedig en so min moontlik kontak by die afbreekpunte te maak.

Hulle het meer as 120 duikslae uitgevoer en die Stormers net 29.

Dit het die Stormers ontsenu. Hulle was boonop onbeholpe en het in die eerste 40 minute een van hul swakste vertonings van die afgelope paar jaar gelewer.

Maar toe die Springbok-agsteman Evan Roos en die Bok-skrumskakel Herschel Jantjies vyf minute ná rustyd opgestuur is, was daar nuwe lewe en het die damwal gebars.

Jantjies, wat die bal baie vinniger as Stefan Ungerer (wat in die eerste 45 minute gespeel het) aan sy agterspelers besorg het, was ʼn vars briesie.

(Foto: Hansie Linde)

Met Jean-Luc du Plessis wat die onervare losskakel Kade Wolhuter vervang het, het dit veral die senter Dan du Plessis laat blom.

Die vurige Roos het binne ʼn paar minute nadat hy opgestuur is om Willie Engelbrecht te vervang in samewerking met Hacjivah Dayimani wat flank toe geskuif het, ʼn drie gedruk. Hy was byna onstuitbaar op pad doellyn toe ná ʼn rolmaalbeweging.

Dit het die nodige vonk wat ontbreek het, by die Stormers aangesteek, want hulle het baie meer direk gespeel en Clermont se verdediging oopgeruk.

Die Stormers het ook die geel kaart wat Clermont se losskakel, Anthony Belleau, gekry het nadat hy die bal naby sy doellyn weggeklap het, goed uitgebuit.

Die Stormers was Saterdagaand in die tweede posisie in Groep B op die puntelys, maar die kans is goed dat hulle Sondag deur Toulouse wat teen Munster speel, verbygesteek sal word.

Dit kan beteken dat die Bulls, wat straks sewende in Groep A sal eindig, heel waarskynlik teen Toulouse in Frankryk in die uitspeelrondes sal moet speel en nie teen die Stormers nie.

Punte:

Stormers 30 (3): Drieë: Evan Roos, Herschel Jantjies, Dan du Plessis, Deon Fourie. Doelskoppe: Jean-Luc du Plessis (2). Strafdoele: Kade Wolhuter (2).

ASM Clermont 16 (6): Drie: Bautista Delguy. Doelskop: Gabin Michet. Strafdoele: Anthony Belleau (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.