Stormers verbrand weer hul vingers

Foto: DHL Stormers

Dit moet darem uiters frustrerend vir ʼn ondersteuner van die Stormers se rugbyspan in die Superrugby-reeks wees. Dit het Saterdagoggend in Auckland weer gebeur toe die Blues die Stormers met 24-9 geklop het nadat die tuisspan met rustyd met 10-6 voor was.

Hoe verduidelik jy dit aan jou ondersteuners as jy teen 14 spelers in die laaste 11 minute speel (die Blues-vleuel Tanielu Tele’a is met ʼn rooikaart gestraf nadat hy Dillyn Leyds se voete onder hom uitgepluk het), maar steeds nie ʼn drie kan druk nie?

Hoe verduidelik jy dit as jy besit oorheers het, minder strafskoppe afgestaan, minder duikslae uitgevoer en steeds nie ʼn bonuspunt kon verower nie?

Aan die positiewe kant is baie meer oor die voordeellyn gekom as verlede week teen die Hurricanes (toe die Stormers ook verloor het). Die losskakel, Jean-Luc du Plessis, het sy agterspelers baie beter weggestuur en die buitespelers het dieper gespeel en oor die voordeellyn gekom. Maar ongelukkig was daar heelwat bottervingers, soms was die laaste aangee vorentoe en die geluk was nie aan die Stormers se kant nie.

Dit was hartverskeurend om rustyd met 6-10 agter te geloop het, want die Blues het net twee behoorlike kans in die eerste helfte gekry en een daarvan afgerond.

Maar jy skep jou eie geluk, jy skep jou eie kanse, jy gryp die krummels wat na jou kant toe kom. Die Stormers moes, en kon so maklik gewen het en daar sal diep op die res van die toer gedelf moet word.

Maar hoeveel keer sal Pieter-Steph du Toit weer vier hanteerfoute maak en besit afstaan?

Boonop is die yster-slot Eben Etsebeth, wat in eerste helfte bra stil was, vroeg in die tweede helfte weens ʼn enkelbesering van die veld af.

Kommer vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus!

Dan is die senter, Dan du Plessis, ná ʼn beenbesering in die eerste helfte reeds deur Josh Stander vervang. Dit het ontwrigting veroorsaak, maar ai, hoe kon die plaasvervanger-vleuel, SP Marais (gewoonlik ʼn baie betroubare stelskopper), ʼn maklike strafskop aan die einde skeeftrek wat op ʼn bonuspunt en selfs ʼn oorwinning kon uitloop.

Punte

Blues 24 (10): Drieë: Tanielu Tele’a, Otere Black, Rieko Ioane. Doelskoppe: Black (3). Strafdoel: Black.

Stormers 9 (6): Strafdoele: Jean-Luc du Plessis (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
bolla

Stormers gaan nêrens kom met daai agterlyn wat nie kan drieë druk nie.

Kiewiet

Hoe is dit moontlik dat in strafskop aan die einde die Stormers kon laat wen het. As hulle 24 – 9 agter is.

Swartwolf

Goeie artikel en opsomming Pieter maar jy is baie sag op die Stormers. Om so pakslae teen 14 man te kry is ‘n skande. Voeg by SP wat mis skop, die Ellende en wannabee bok Lleyds wat nou nog nie die gras uit hul monde kan kry na daai verbroude duikslae nie. Tussen Mbonambi, Pieter Steph en Kolisi het hulle seker 10 keer die bal aangeslaan. Waar was Kolisi se leierskap…..?? Dis nie net Rassie wat moet bekommerd wees nie maar Fleck ook die toer word ‘n sirkus. En dit kan die stormers net verduidelik deur te pleit hulle het… Lees meer »

Babertondaisy

Dis baie vernederend vir SA rugby dat ‘n span met soveel springbokke so pakslae kry teen ‘n span met 14 spelers vir 12 minute. Die verbroude duikslae en aanslane…….omtrent ‘n skande.

Bruno

Josh Stander hoort in die begin span