Streeptruie kies sterre vir Bul-stryd

Morné Steyn en Juan de Jongh. Foto: GB Jordaan.

Hoewel rugbybase nog ontken dat daar ʼn rugbykrisis in Pretoria is, weet die Bloubul deesdae baie meer van verloor as voorheen.

Nou het die Westelike Provinsie ook ʼn paar sterre vir Vrydagaand se Curriebeker-stryd op Loftus Versfeld gekies.

Ernst van Rhyn sal ʼn sterk span aanvoer wat onder andere vir Clayton Blommetjies, Suleiman Hartzenberg, Ruhan Nel en Kade Wolhuter insluit.

Willie Engelbrecht, wat verlede jaar die silwerware saam met die Pumas in Kimberley omhoog gehou het, sal sy Curriebeker-buiging vir die Streeptruie maak.

Op die plaasvervangersbank kan Scarra Ntubeni en Godlen Masimla vir die nodige momentuminspuiting sorg, terwyl die opwindende Hacjivah Dayimani ook weer sy terugkeer ná sy besering sal maak.

Ondanks die feit dat Fort Loftus se verskansings al ʼn paar keer die afgelope ruk platgeslaan is, weet John Dobson dat daar steeds ʼn taai uitdaging op sy spelers wag.

“Dit is ons tweede wegwedstryd binne die bestek van ses dae op die Hoëveld en ons sal op ons beste moet wees as ons nou weer die knoop sal wil deurhak,” het die WP-afrigter gesê.

Intussen sien Wolhuter uit na ʼn moontlike losskakel-tweestryd met Morné Steyn.

“Ek kyk al sedert my laerskooldae op na Morné en dit sal ʼn wonderlike uitdaging wees om teen hom te speel,” het die jong Kapenaar gesê.

Die wedstryd begin Vrydag om 19:05 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Westelike Provinsie: Clayton Blommetjies (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Juan de Jongh (buitesenter), Jean-Luc du Plessis (binnesenter), Ruhan Nel (linkervleuel), Kade Wolhuter (losskakel), Paul de Wet (skrumskakel), Keke Morabe (agtsteman), Willie Engelbrecht (flank), Marcel Theunissen (flank), Connor Evans (slot), Ernst van Rhyn (slot en kaptein), Sazi Sandi (stut), Andre-Hugo Venter (haker) en Kwenzo Blose (slot). Plaasvervangers: Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Lee-Marvin Mazibuko, Dylan de Leeuw, Ben-Jason Dixon, Hacjivah Dayimani, Godlen Masimla en Bruce Sherwood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.