Superrugby: Sharks gee Reds bloedneus

(Foto: Queensland Reds/Twitter)

Dit sit nie in enige rugbyspan se broek om drie van hul vier Superrugbywedstryde op toer in Australasië te wen nie.

Nadat die Sharks dit in 2009 en weer in 2012 vermag het, het hulle dit Saterdag in Brisbane die derde keer reggekry toe hulle die Reds met 33-23 geklop het nadat hulle rustyd met 8-11 agter was.

Hulle het sodoende ook die spook van Brisbane begrawe nadat die Reds al ses hul laaste wedstryde teen Suid-Afrikaanse teenstand gewen het en die Sharks in hul laaste twee wedstryde geklop het.

Boonop moes hulle dit teen die einde met 14 spelers doen nadat Lwasi Mvovu met ʼn geel kaart gestraf is.

Hulle het ook kwaai onder die Nieu-Seelandse skeidsregter Brendon Pickering se fluitjie deurgeloop nadat hy hulle 14 keer gestraf het.

Dit laat ’n mens dink aan waar daardie Aussie-webwerwer – wat kla oor Suid-Afrikaanse skeidsregters – sy feite vandaan kry.

Van die beslissings was soms geregverdig, maar ai, van hulle was darem baie eensydig.

Boonop het die wedstryd 87 minute geduur nadat die Sharks gestraf, gestraf en gestraf is.

Boonop moes die Sharks baie meer duikslae uitvoer (118 teenoor 72), hulle het die bal net 61 keer uitgegee teenoor die Reds se 112, maar hulle het net 11 keer besit afgestaan.

Hulle het die Reds in die lynstane en skrums geboelie en hul opskietverdediging het die Reds agter die voordeellyn aan bande gelê. En by die afbreekpunte het dit soms gelyk asof die Reds nie lus was om op balle te val, hulle op te pik of suksesvol te rolmaal nie.

Eintlik het die eindtelling die Reds gevlei, want die Sharks was kort voor die einde nog met 33-16 voor en was op soek na ʼn vyfde drie vir ʼn bonuspunt.

Die groot ligpunte vir die Sharks was hul donkiewerk by die afbreekpunte waar veral Oxe Nche en Dylan Richardson die lewe vir die Reds vergal het.

Dan het die skopwerk van Curwin Bosch die Reds erg sooibrand gegee. Sy kantlynskoppe was ver en sekuur en sy twee lang strafdoele het die Reds se moed in hul skoene laat sak.

Daarteenoor het die Reds se skopper, die heelagter Jock Campbell (weer) skeef gekorrel en het hy sy in-die-kol-persentasie van 64% gehandhaaf met Bosch op ʼn stewige 89%. Die senter Hamish Stewart se kantlynskoppe was ook nooit verder as 30 meter nie.

Die Sharks, wat daarvan hou om te toer, vlieg nou vol vertroue huis toe. Hulle het 16 ligapunte ná hul oorsese toer en is slegs een punt agter die Stormers (voor hul kragmeting met die Blues). Maar die Stormers moet nog gaan toer, terwyl die Sharks na Kingspark terugkeer.

Onder die nuwe afrigter, Sean Everitt, kan die Sharks dalk vanjaar ʼn veel langer paadjie stap, want hulle het baie pyle in hul koker: vaart, durf, passie, diepte en die nodige vaardighede.

Puntemakers: Sharks 33 (8): Drieë: Kerron van Vuuren, Dylan Richardson, Lukhayno Am, Madosh Tambwe. Doelskoppe: Curwin Boch (2). Strafdoele: Bosch (3).

Reds 23 (11 ): Drieë: Henry Speight, Tate McDermott, Ed Craig.  Doelskop: Jock Campbell (1). Strafdoele: Campbell (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

OK Maroela, ek kry die boodskap, eintlik het ek dit al twee uur gelede of so gekry ek pla te veel. Sal nie weer verder pla nie.

Johan Venter ·

Maroela/Christel, so ‘n laaste van my en dit is ‘n voorstel dat julle, waar julle ontevrede is as mens te veel pla, kommentaar stuur waarmee julle nie tevrede is nie en so, dat julle tiekies daar bo by die teller aftrek of wegvat, dan kry mens darem so ‘n idee van wat skaaf.

Frieda ·

Curwin Boch bly ‘n speler om dop te hou hy is Springbok materiaal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.