Superrugby: Tahs, Highlanders en Hurricanes seëvier

Daar gaan nog lang trane by die Waratahs en in Australiese rugby gehuil word as Israel Folau se loopbaan tot ʼn einde kom, of so is daar ná die eerste helfte van die Superrugby-wedstryd tussen die Waratahs en Rebels op die SCG, die tuiste van die Australiese krieketspan, geglo.

Die Rebels was met rustyd met 20 – 7 voor, maar die Waratahs het hulle betyds reggeruk en met 23 – 20 gewen.

Die Waratahs was in die eerste helfte sonder fut en het planloos voorgekom. Die gebeure van die afgelope paar weke het met die spelers se koppe gesmokkel, want dit het gelyk of Folau se toekoms in rugby, wat aan ʼn baie dun draadjie hang oor sy geloofsuitsprake op Twitter, beslis die spelers se energie getap het.

As die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, toe gehoop het dat Kurtley Beale sommer soomloos vir Folau in die nommer 15-trui sal vervang, sou hy straks twee keer gedink het. Beale is boonop deur Reece Hodge, heelagter van die Rebels, oorskadu.

Maar in die tweede helfte, toe die senuwees bedaar het en die Rebels hulle weer aan ʼn algehele gebrek aan dissipline skuldig gemaak het, het Beale-hulle, saam met die strydros Michael Hooper wat in sy 100ste wedstryd gespeel het, na die tweede rat oorgeskakel en gewys daar is hoop, met of sonder Folau.

Die Rebels, wat verlede week teen die Stormers slae gekry het, het in die week glo selfondersoek gedoen. Maar ai, as dit is hoe hulle na hulself in die spieël kyk, wag groot probleme vorentoe, veral vir die afrigter, Dave Wessels.

Jy kan nie soveel strafskoppe afstaan nie, jy kan nie weer (dié keer twee) geelkaarte afstaan nie, jy kan nie die reëls só bly oortree nie.

Teen die Waratahs soek jy mos vir moeilikheid, sommer groot moeilikheid, en dis presies wat gebeur het.

Vir die Waratahs is ʼn week vol probleme en moddergooiery darem goed afgesluit.

Puntemakers:

Waratahs 23 (7): Drieë: Adam Ashley-Cooper, Bernard Foley: Doelskoppe: Foley (2). Strafdoele: Foley (3).

Rebels 20 (20): Drieë: Reece Hodge, Billy Meakes. Doelskoppe: Quade Cooper (2). Strafdoele: Cooper, Reece Hodge.

* In Nieu-Seeland gaan daar ʼn groot gestoei wees later vanjaar om tot die uitspeelrondes van die Superrugbyreeks deur te dring.

Dit het gevolg nadat die Highlanders Saterdagoggend in Dunedin hul aanspraak net-net lewendig gehou het toe hulle die Blues met 24 – 12 geklop het en die Chiefs in Hamilton teen die Lions vasgeval het.

Die Highlanders (18 punte) het nou hul neuse voor die Chiefs (17) in die Nieu-Seelandse afdeling gekry, met die Blues (20) net ʼn kortkop voor.

Neem maar aan dat Crusaders (34) en Hurricanes (27), wat ʼn broekskeurvertoning teen die Sunwolves gelewer het, na alle waarskynlik sal deurdring.

Die Highlanders, wat laas op 22 Februarie ʼn oorwinning gesmaak en die eerste keer sedert 2013 vyf keer in ʼn ry verloor het, het sake effe reggestel toe hulle die Blues geklop het.

Maar onthou die Blues is geen westrydwenners nie, hulle het te veel ooglopende leemtes, hulle gaan nog ʼn lang paadjie moet stap voordat hulle die glorieryke dae gaan herwin.

Puntemakers:

Highlanders 24 (7): Drieë: Shannon Frizell, strafdrie (7 punte), Matt Faddes. Doelskoppe: Josh Ioane (2). Strafdoel: Ioane.

Blues 12 (5): Drieë: Tom Robinson, Melani Nanai. Doelskop: Harry Plummer.

* Die Sunwolves het in ʼn volgepakte Prince Chichibu-stadion byna die hoogaangeskrewe Hurricanes ontspoor.

Die Hurricanes, wat sonder hul All Black-wedstrydwenners soos Beauden en Jordie Barrett gespeel het, het op hul nerwe met 29 – 23 deurgeskraap nadat hulle rustyd nog met 10 – 23 agter was.

Die Sunwolves trek vanjaar soos ʼn vars briesie deur die Superugbyreeks. Ja, daar is bitter min Japanners in hul span, maar hulle speel met oorgawe en ondernemingsgees en watter ander span kan met ʼn volgepakte stadion spog? Sowat van geesdrif en gees is daar lanklaas gesien.

Kom ons plaas hul vertonings in perspektief: Die Sunwolves (24) het tot dusver meer drieë as die Bulls (21), Sharks (20) en Stormers (16) gedruk. Hulle het ook meer punte as die Bulls, Sharks, Jaguares en Stormers aangeteken.

Verdien hulle dit regtig om in 2020 uit die reeks geskop te word?

Puntemakers:

Hurricanes 29 (10): Drieë: TJ Perenara, Ben Lam, Chase Tiatia, Wes Goosen. Doelskoppe: Fletcher Smith (3). Strafdoel: Smith.

Sunwolves 23 (23): Drieë: Semisi Masirewa (2). Doelskoppe: Hayden Parker (2). Strafdoele: Parker (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Een swaeltjie maak nie ‘n somer maar Israel se afwesigheid gaan tog maak dat sekere spanne dalk met die rug teen die muur gaan staan . . . om die minste te sê . . .

Frans C ·

Die kompetisie het ontstaan uit mededinging tussen provinsiale spanne in 1986 as die
AGC South Pacific Championship, wat ‘n Super 6 reeks was.Dit het Super 10 geword to
Transvaal en Noord Transvaal.Transvaal wen in 1993 en Queensland,in 1944 en 1995.

Dit word die Super 12 in 1996 en skakel NZ oor na Streeksspanne.Tussen 1996 en 2005
oorheers NZ spane die kompetisie.In 2006ord dit die Super 14.Dit is die kompetisie wat die Bulls 3 keer wen.

Al die spanne is nie meer provinsiale spanne nie maar streeksspanne wat om ‘n provinsiale span as kern gebou is.Waar daar 24 provinsiale spanne in Argentina is,is dit nie ‘n streekspan gebou om een provinsie nie maar ‘n nasionale span waar spelers uit
alle provinsies kom.Die Sunwolwes is ‘n internasionale span want dit bestaan uit meerderheid internasionale spelers gemeng met Japanese spelers.Die Sunwolwes en Jaquars behoort uit beginsel nie in die kompetisie nie.

Hoe sal dit nou lyk as ‘n sukkelende Suid Afrikaanse span nou op grootskaal oorseese spelers begin werf of as SARU besluit genoeg is genoeg gesukkel en skryf twee spanne in,en uit Noordelike provinsies en een uit die Suidelike provinsies?

Dink jy NZ en die Aussies sal tevrede met dit wees veral as dit voorgehou word as ‘n poging om Suid Afrikaanse rugby te verbeter en dit op die platteland te bevorder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.