Talle nuwelinge by Bokke se belyningskamp

Springbokafrigter Rassie Erasmus. (Foto: Springboks/X)

Springbokafrigter Rassie Erasmus het 43 spelers na die Bokke se eerste belyningskamp genooi – altesame 16 van hulle nuwelinge. Dit is die eerste saamtrek sedert die Bokke se historiese vierde oorwinning by die Wêreldbekertoernooi in Frankryk verlede jaar.

Die saamtrek begin op 4 Maart in Kaapstad en behels ʼn strategiese sessie deur afrigters en ʼn twee dae lange belyningskamp vir spelers. Hier moet die planne vir die 2024-seisoen gesmee word.

Die groep van 43 bestaan uit 39 plaaslike spelers en vier wat in Japan gesetel is. Dié vier spelers is tans beseer en ondergaan rehabilitasie in Suid-Afrika.

Altesame 19 van die genooide spelers was deel van die seëvierende Wêreldbekerspan en sluit Ox Nche, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Marco van Staden en Canan Moodie in, lui ʼn verklaring van SA Rugby.

Spelers soos Sanele Nohamba, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Suleiman Hartzenberg, wat vantevore by belyningskampe of op SA A-vlak betrokke was, gaan ook ʼn kans kry om saam met die breiers te werk.

Ander kry hul heel eerste voorsmaak van Springbokrugby. Spelers op dié lys sluit Jan-Hendrik Wessels, Quan Horn, Neethling Fouche en Marnus van der Merwe in.

Erasmus is ook in sy noppies met die goeie mengsel van ervaring en jeug in die groep.

“Ons is verheug dat die nuwe afrigtingspan vir die eerste keer in persoon sal ontmoet en dat ons die kans gaan kry om sterk struktuur, die Springbok-kultuur en ons manier van dinge doen aan die genooide spelers te kan wys,” sê Erasmus.

“Die fokus by die kamp gaan wees om almal vir die 2024-seisoen op dieselfde bladsy te kry en ons glo dit gaan ʼn goeie grondslag vir die pad vorentoe lê.”

Jerry Flannery en Tony Brown gaan volgens Erasmus ʼn deurslaggewende rol in die afrigtingspan speel.

“Ons is opgewonde om te sien hoe hulle saam met die res van die afrigtingskorps stappe instel namate ons voorberei vir ʼn uitdagende seisoen wat voorlê.”

Sommige van die spelers is al jare lank deel van die span.

“Hulle ondervinding en bekendheid met die manier hoe ons dinge by die Springbokke doen, gaan van onskatbare waarde wees om die jonger spelers te lei. Ander het weer blootstelling gekry deur die SA A-span te verteenwoordig wat in November 2022 teen Munster en die Bristol Bears te staan gekom het.”

Sommige van die nuwelinge in die groep het reeds hul impak op provinsiale vlak gewys. Erasmus sê hulle sien daarna uit om dié geleentheid te bied en aan die spelers ʼn ware gevoel te gee van wat op die hoogste vlak van rugby van hulle verwag gaan word.

Die saamtrek is die eerste van drie belyningskampe voor die Springbokke se internasionale seisoen begin. Dit skop af met twee toetse teen Ierland en die eerste internasionale wedstryd teen Portugal in Julie.

Tydens die Rugbykampioenskap sal die Bokke die Aussies Doer Onder die stryd aansê. Hierna volg agtereenvolgende tuistoetse teen Nieu-Seeland, en twee toetse, een daarvan op tuisbodem, teen Argentinië.

Spelers by belyningskamp:

Voorspelers: Eben Etzebeth, Neethling Fouche, Johan Grobbelaar, Celimpilo Gumede, Cameron Hanekom, Andre-Hugo Venter, Vincent Koch, Elrigh Louw, Wilco Louw, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Malcolm Marx, Ntuthuko Mchunu, Salmaan Moerat, Ox Nche, Ruan Nortje, Evan Roos, Kwagga Smith, Gerhard Steenekamp, Marnus van der Merwe, Ruben van Heerden, Marco van Staden, Ruan Venter en Jan-Hendrik Wessels.

Agterspelers: Lukhanyo Am, Kurt-Lee Arendse, Faf de Klerk, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Suleiman Hartzenberg, Jaden Hendrikse, Jordan Hendrikse, Quan Horn, Herschel Jantjies, Jesse Kriel, Willie le Roux, Manie Libbok, Makazole Mapimpi, Canan Moodie, Sanele Nohamba, Morne van den Berg, Henco van Wyk, Grant Williams en Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.