Toe gʼn vuurtjie by dié Marx-rokie

Malcolm Marx. Foto: Odd Andersen/AFP.

Ondanks verskeie berigte oor die naweek wat beweer het dat Munster belangstel om die dienste van Malcolm Marx te bekom, het Denis Leamy gister bevestig dat daar gʼn vuurtjie by dié rokie is nie.

“Ek sal baie daarvan hou om saam met Malcolm Marx te werk, maar daar steek geen waarheid in die gerugte nie.  Hoewel dit voor die hand liggend is dat ons die spelersmark dophou, is dit nie ʼn deurlopende gesprek nie,” het die Iere se verdedigingsafrigter gesê.

Selfs al pak die Springbok-haker nie nou sy tasse vir Limerick nie, is dit glad nie vergesog om te dink dat klubs vir sy handtekening sal vuisslaan nie.

Bernard Jackman, ʼn voormalige Ierse speler, het juis op die Rugby Weekly Extra-podsending gesê dat Marx ʼn reuseverskil in Munster-kleure sou maak.

“Dit is eintlik wonderlik om hieroor te bespiegel. ʼn Fikse Malcolm Marx wat gereeld speel, kan binne ʼn oogwink ʼn ommeswaai in ʼn wedstryd bewerkstellig,” het Jackman gesê.

 Foto: GB Jordaan.

Die sterk voorspeler het reeds 59 keer vir die Springbokke uitgedraf nadat hy in 2016 sy buiging teen Nieu-Seeland in Christchurch gemaak het en hy is ongetwyfeld een van die spelers wat die Bok-vuur stook.

Wanneer Marx die no. 2-trui dra, is die Suid-Afrikaners se pad na moontlike Wêreldbeker-glorie veel korter.

Hy het verlede jaar ’n barshou teen die All Blacks op die Mbombela-stadion gespeel, terwyl hy ’n week later ’n definitiewe verskil as Joseph Dweba se plaasvervanger teen die einste Nieu-Seelanders op Ellispark gemaak het.

Hy is betroubaar, talentvol en skroom nie om vuur met vuur te beveg nie.

Marx speel deesdae sy rugby vir die Kubota Spears nadat hy ook vroeër vir NTT Shining Arcs uitgedraf het. Die sterspeler het in 2019 Johannesburg vir Japan verruil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.