Toetsrugby: Iere gee futlose All Blacks bloedneus

All Blacks teen Ierland in ‘n vorige stryd (Foto: MICHAEL BRADLEY/AFP)

Die uurglas is vinnig besig om vir Ian Foster, die All Blacks se rugbyafrigter, leeg te loop.

Dit het gevolg nadat Ierland Saterdagoggend in Dunedin slegs sy vierde oorwinning ooit (in die afgelope sewe toetse!) oor die All Blacks behaal het en dit ook die eerste keer in 14 probeerslae in Nieu-Seeland vermag het.

Die Iere het die besoekers in die tweede van drie toetse met 23-13 uitoorlê om die reeks met 1-1 gelyk te laat trek met die derde en beslissende toets wat in Wellington wag.

Die Iere, wat in verlede week se eerste toets in Auckland met 42-19 afgeransel is, was Saterdag met rustyd met 10-7 voor en het die All Blacks met ʼn kliniese vertoning gemesmeraais.

Die All Blacks se gebrek aan dissipline was een van hul groot knelpunte. Die vleuel Leicester Fainga’anuku is reeds in die 16de minuut met ʼn geel kaart afgestuur ná ʼn gevaarlike duikslag.

Die stut Ofa Tuungafasi het in die 25ste minuut gevolg nadat hy ʼn teenstander sonder die bal platgetrek het. Die All Blacks was gelukkig, want dit kon op ʼn strafdrie uitgeloop het.

Nog treurmare het gevolg toe Tuungafasi se plaasvervanger, Angus Ta’avo, ʼn rukkie later met ʼn rooi kaart afgestuur is nadat hy die Ierse senter Garry Ringrose tydens ʼn duikslag teen die kop getref het.

Tuungafasi, wat nog nie sy geel kaart uitgedien het nie, moes noodgedwonge teruggestuur word met Ardie Savea wat plek moes maak omdat daar te alle tye twee stutte op die veld moet wees.

Foster se rekord is power, want sy All Black-spanne het in 23 toetse nou reeds 6 keer verloor en een keer gelykop gespeel.

Die Springbokke is die huidige Wêreld- en Rugbykampioenskap-kampioene en die All Blacks veg om hul tweede plek op die ranglys te behou.

Die All Blacks het Saterdag planloos voorgekom en was in die tweede helfte boonop paniekerig.

Sam Cane se leierseienskappe het opnuut in die gedrang gekom en Foster se onvermoë om aan te pas, die regte spelers te kies, wedstrydplanne uit te voer en ʼn wedstryd sonder geel kaarte te voltooi, sal opnuut bevraagteken word.

Die Iere het by die basiese beginsels gehou en hul duikslae met sukses uitgevoer, die All Blacks gewurg en nie toegelaat om oor die voordeellyn te kom nie.

Die All Blacks kon nie die 37-jarige Ierse losskakel, Jonny Sexton, onder druk plaas nie en het hom toegelaat om die toutjies te trek.

Hoeveel keer is sy kanaal op die verdediging geteiken? Hoeveel keer is hy met die bal betrap?

Nou lê daar net harde werk en baie kopkrap vir Foster-hulle voor, want sulke vertonings word veral nie in Kiwiland geduld nie, veral nie as die land se oënskynlike beste afrigter, Scott Robertson (Crusaders) in die wandelgange staan en wag nie.

Punte: Ierland 23 (10): Drieë: Andrew Porter (2). Doelskoppe: Jonny Sexton (2). Strafdoele: Sexton (3).

All Blacks 13 (10): Drieë: Beauden Barrett, Will Jordan. Strafdoel: Jordie Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.