Twee seges op ’n streep!

Suid-Afrika se vrouesewesspan het vir Groot-Brittanje en Spanje geklop. (Foto: X/SA Women’s Rugby0

Die nasionale vrouesewesspan is besig om die kanonvoer-etiket af te skud. Die Suid-Afrikaners het vandag twee agtereenvolgende wedstryde by die Perth-sewestoernooi gewen.

Hulle het eerstens ’n goeie oorwinning van 14 – 12 teen Groot-Brittanje behaal, waarna hulle Spanje met 12 – 7 geklop het.

Die span speel nou Sondag om 05:31 teen Brasilië om die negende plek in die toernooi uit.

Om die Suid-Afrikaners se jongste vertonings in perspektief te plaas: Die sege teen die Britte was skaars hul tweede oorwinning in 13 probeerslae van die nuwe sewesseisoen.

Maria Tshiremba gaan nog lank haar drie teen Groot-Brittanje onthou, terwyl Nadine Roos gereeld met die skopskoen uitgeblink het.

Haar suksesvolle doelskoppogings het ’n deurslaggewende rol in die oorwinnings gespeel.

  • Puntemakers:

Teen Spanje:

Suid-Afrika: Drieë: Zintle Mpupha en Nadine Roos. Doelskop: Roos.

Teen Groot-Brittanje:

Suid-Afrika: Drieë: Simamkele Namba en Maria Tshiremba. Doelskoppe: Roos.

Uitslae in Perth:

Suid-Afrika 0 – 31 Australië

Suid-Afrika 7 – 26 Kanada

Suid-Afrika 14 – 12 Groot-Brittanje

Suid-Afrika 12 – 7 Spanje

SA vroue: Zintle Mpupha, Shona-Leah Weston, Simamkele Namba, Liske Lategan, Kyla de Vries, Kemisetso Baloyi, Shiniqwa Lamprecht, Mathrin Simmers, Nadine Roos, Eloise Webb, Marlize de Bruin, Maria Tshiremba en Byrhandré Dolf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.