Ulster monitor Duane se fiksheid

Duane Vermeulen. (AP Photo/Ross Setford)

Daar is ’n moontlikheid dat Duane Vermeulen hierdie Saterdag sy Ulster-buiging teen Clermont kan maak.

Die Springbok-losvoorspeler het hom verlede week by die Belfast-span aangesluit, maar hy het intussen ook positief vir Covid-19 getoets.

Volgens die klub gaan dit gesondheidsgewys goed met die hardebaard-agtsteman en sy fiksheidsvlakke word gereeld gemonitor.

“Duane Vermeulen keer geleidelik terug na die oefenveld ná sy onlangse Covid-19-diagnose,” het die klub in ’n verklaring gesê.

Vermeulen, wat die speler van die wedstryd in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland was, het ’n kontrak van twee jaar met die Ierse span onderteken.

’n Opgewonde Dan McFarland (afrigter) het vroeër gesê dat hy nie kan wag om die Suid-Afrikaner in Ulster-kleure te sien nie.

“Duane is ’n wonderlike speler, hy is die agtsteman van die verdedigende wêreldkampioenspan en sy ervaring sal ongetwyfeld van baie waarde wees,” het McFarland gesê.

Vermeulen het in sy tyd by die Bulle ’n gedugte eenheid met Jake White gevorm en die Pretorianers het in dié tydperk ’n rits trofees gewen.

Toe hy in Maart as SA Rugby se speler van die jaar aangewys is, het Mark Alexander (Saru-president) sy lof besing.

“Dit was ’n baie moeilike seisoen, maar Duane was briljant; nie net wat sy eie vertoning op die veld betref nie, maar ook sy leierskap.”

Ulster se kragmeting teen Clermont begin Saterdag om 19:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.