Van Rooyen trots op Lions-vertoning

Ivan van Rooyen het sy waardering vir die Lions se spel uitgespreek. Foto: GB Jordaan.

Hoewel daar baie die afgelope week in die media berig is oor die ontevredenheid in die Lions-kamp, kon hulle steeds die Glasgow Warriors met 35 – 24 op Ellispark klop.

Die tuisspan het vyf drieë teenoor die vier van die besoekers gedruk, maar swak dissipline het gedreig om hul wentrein so amper te ontspoor. Edwill van der Merwe en Quan Horn is met geel kaarte van die veld gestuur, terwyl Ruan Dreyer laat in die wedstryd in ʼn rooi kaart vasgekyk het.

Volgens berigte het die Lions-spelers vroeër hul misnoeë met Ivan van Rooyen te kenne gegee en hom tussen drie en vier uit tien op sy rapportkaart gegee.

Tog glimlag die beleërde hoofafrigter weer ʼn bietjie ná gister se goeie vertoning.

“Die voorspelers en agterspelers soos Marius Louw en Manny Rass se werkverrigting het my baie beïndruk. Op ʼn stadium het dit gelyk of ons tien voorspelers op die veld het en hulle het hul bes gedoen om vir ons voorvoetbalbesit te bewerkstellig,” het Van Rooyen gesê.

Nodeloos om te sê is Van Rooyen in sy noppies met die span – hulle het tussen die vier kalklyne gewys dat hulle nog oor genoeg brul beskik.

Die tuisspan het vyf drieë in die wedstryd gedruk. Foto: GB Jordaan.

“Dit was ʼn spesiale vertoning en ek is baie trots op die ouens. Terselfdertyd is ek ook dankbaar om teen ʼn sterk Glasgow-span as oorwinnaars van die veld te stap.”

Volgens die jongste Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer beklee die Lions tans die 12de plek; binne trefafstand van Connacht in die belangrike agtste plek.

Hulle gaan egter nie ʼn plek in die uitspeelwedtryde op ʼn skinkbord kry nie; hulle speel volgende week teen die Bulls op Loftus Versfeld.

“Ons weet dat daar baie oor ons rekord teen Suid-Afrikaanse spanne in die aanloop tot daardie wedstryd gepraat sal word, maar ons weet hoe om dinge reg te stel. Ons het darem ʼn bietjie momentum ná die Glasgow Warriors-kragmeting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.