Veteraan-stut Nel gereed om stewels weg te bêre

WP Nel (37) het sy uittrede aangekondig. (Foto: X)

Skotland en Edinburgh se WP Nel (37) het sy uittrede aangekondig.

Die ervare voorryman, wat volgende maand sy 38ste verjaarsdag vier, het aangedui dat hy teen die einde van die seisoen sy stewels gaan ophang.

Die Suid-Afrikaans gebore Nel het sy 61ste en laaste kragmeting vir die Skotte tydens verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk gespeel.

Hy het verlede naweek in sy 200ste wedstryd vir sy geliefde Edinburgh in die Verenigde Rugbykampioenskap-toernooi teen die Stormers in Kaapstad uitgedraf.

Nel was tot in 2012 by die Vrystaat Cheetahs betrokke voordat hy sy tasse vir Skotland gepak het.

Hy het sy eerste drie vir die internasionale span tydens die Wêreldbeker-skouspel in 2015 gedruk.

Nel is nie deel van George Townsend (Skotland-afrigter) se Sesnasies-groep nie en sal die toetse teen Kanada, die VSA, Chili en Uruguay misloop.

“Dit is ʼn baie trotse oomblik om die volkslied saam met die span voor ʼn volgepakte stadion te sing,” het Nel gesê.

“My familie is ongetwyfeld die belangrikste. Hulle het ʼn groot rol in my ontwikkeling as ’n speler gespeel en dit is spesiaal om hulle as deel van my rugbyreis te hê”

Townsend het op sy beurt gesê dat Nel ʼn baie belangrike skakel in die Skotse rugbyopset was.

“WP tel onder die topstutte wat al vir Skotland gespeel het. Hy is ʼn speler wat deur sy afrigters en spanmaats gerespekteer word en hy het ʼn goeie sin vir humor.

“Sy vrolike geaardheid en liefde vir die spel was merkwaardig en dit gaan beslis gemis word.”

Intussen is Sean Everitt ook op die uitkyk na spelers om Edinburgh se stutspens ʼn hupstoot te gee.

“Ons sou baie daarvan gehou het as hy nog ʼn jaar kon speel, maar hy wik en weeg al geruime tyd oor sy uittrede. WP is iemand wat ʼn groot waardering vir sy span het, maar daar kom ʼn tyd in elke speler se loopbaan wanneer hy weet dat sy speeldae verby is,” het die Edinburgh-afrigter gesê.

Nel se loopbaanstatistieke:

Hy het 61 toetse vir Skotland gespeel en drie drieë op die internasionale verhoog gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.