Vier SA skeidsregters in Super-aksie

Egon Seconds. Foto: Facebook.

Die gewese WP-agterspeler Egon Seconds sal nie in vanjaar se Superrugby-kompetisie as skeidsregter optree nie.

Seconds se vertonings was verlede jaar onder die vergrootglas en veral oorsese media het oor hom gebrom.

Australië se Fox News het onder meer gesê dat hy vir ’n paar “vreemde beslissings” gesorg het nadat hy 11 strafskoppe teen die Waratahs toegeken het in hul wedstryd teen die Lions op Emirates Airline-park.

Hulle het verder geskryf dat hy in drie kragmetings 43 strafskoppe aan Suid-Afrikaanse spanne toegestaan het. Daarteenoor het sy fluitjie net ses keer in die guns van besoekende spanne geblaas.

Jaco Peyper. Foto: Facebook.

Dan het die legendariese Kiwi-breier Steve Hansen gesê dat Suid-Afrikaanse skeidsregters nie bestendig genoeg is nie.

“Baie van die strafskoppe is die korrekte beslissing, maar hulle (SA skeidsregters) bestendigheid is soms in die kollig. As dit ’n strafskop vandag is, dan is dit ’n strafskop vir die hele dag en nie nét vir ’n gedeelte van die dag nie,” het Hansen verlede jaar aan die media gesê.

Die vier plaaslike skeidsregters is Jaco Peyper, Rasta Rashivenga, Marius van der Westhuizen en AJ Jacobs.

  • Die skeidsregters:

Suid-Afrika: AJ Jacobs, Rasta Rashivenga, Jaco Peyper en Marius van der Westhuizen.

Nieu-Seeland: Mike Fraser, Ben O’ Keeffe, Brandon Pickerill en Paul Williams.

Australië: Nic Berry, Angus Gardner en Damian Murphy.

Argentinië: Federico Anselmi.

  • Bepalings vir die eerste week se Superrugby:

31 Januarie: Blues teen Chiefs, Brumbies teen Reds en Sharks teen Bulls.

1 Februarie: Sunwolves teen Rebels, Crusaders teen Waratahs en Stormers teen Hurricanes.

2 Februarie: Jaguares teen Lions.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Ek kry skeidsregters jammer want die reels is baie tegnies en foute word gemaak. Maar om 43 strafskoppe aan SA spanne toe te staan en net 6 aan hul teenstanders! Dis darem te erg.

Bekommerd ·

Goeie nuus dat Seconds nie gaan blaas nie.
Stormer en WP ondersteuners is seker ongelukkig.

Haffa ·

Marius vd Westhuizen???? Ek rate hom glad nie hoog nie, hy is nie konsekwent nie. Dit is asof hy voor die afskop reeds besluit het wie gaan die meeste kere gestraf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.