Vlok en Franse het 2027 in visier

Vlok Cilliers is tot 2027 deel van die Hane se opset. (Foto: Verskaf)

Vlok Cilliers sal vir nog ʼn paar jaar deel van die Hane se rugbyopset bly nadat hy ʼn kontrak geteken het wat hom tot 2027 in Frankryk hou.

Vir die 55-jarige skopafrigter, wat in 1996 vir die Springbokke teen die All Blacks op Kingspark gespeel het, bied dit die geleentheid om in sy rol te groei.

“As afrigter wil ek natuurlik nog verbeter en meer leer oor die spel. Maar die belangrikste is om Frankryk die wêreldkampioenspan te maak,” het Cilliers aan Maroela Media gesê.

Die Springbokke het verlede jaar Franse harte op die Stade de France gebreek toe hulle die Wêreldbeker-kwarteindstryd met 29–28 gewen het.

Fabien Galthié, die Hane se hoofafrigter, het ná die nederlaag gesê dat die uitslag nog lank by hom en sy spelers gaan spook.

“Ek stem saam met hom dat die nederlaag ʼn sielkundige letsel gelaat het. Dit sal beter word, maar dit is iets wat nooit heeltemal sal verdwyn nie.”

Cilliers (regs) hou ’n wakende oog oor Frankryk se skopwerk. (Foto: Verskaf)

Kan Frankryk in 2027 die Webb Ellis-trofee in Australië omhoog hou?

“Vir seker. Ek dink ons het die afgelope vier jaar verbeter en ons wenpersentasie is beslis hoër. Ons kan nou net sterker word en meer ervaring opdoen.”

Frankryk speel Vrydagaand in sy openingswedstryd van die Sesnasiesreeks teen Ierland op die Stade Velodrome in Marseille.

Die Hane sal egter sonder die dienste van hul talismanspeler, Antoine Dupont, wees. Die talentvolle skrumskakel is deesdae oorgehaal om ʼn Olimpiese goue medalje saam met die Franse sewesspan in te oes.

Nodeloos om te sê, sal Dupont gemis word, maar Cilliers glo dat Frankryk oor genoeg rugbytalent beskik om ʼn Sesnasieskrag te bly.

“Ons fokus nie net op een speler nie. Ja, Antoine is ʼn baie goeie speler, maar ander sterre soos Romain Ntamack en Anthony Jelonch is ook op die krukkelys.

“Die talentgroep in Frankryk is ongelooflik groot en daar is baie vaardige spelers in elke posisie.”

Cilliers sal oudergewoonte ʼn wakende oog oor sterre soos Thomas Ramos en Matthieu Jalibert se skopvaardighede hou.

En kan hy al vlot Frans praat?

“Dit word darem elke keer beter en ek kan al meer praat. Ek leer baie meer wanneer ek saam met die span is.”

Maar ʼn bal wat suiwer oor die dwarslat gejaag word, verstaan mos enige taal, of hoe?

Die Franse afrigtersgroep vier verlede jaar se spogvertoning teen Engeland op Twickenham. (Foto: Verskaf)

Frankryk se Sesnasies-groep:

Voorspelers: Esteban Abadie, Dorain Aldegheri, Gregory Alldritt (kaptein), Uini Atonio, Cyril Baille, Gaetan Barlot, Paul Boudehent, Francois Cros, Paul Gabrillagues, Matthias Halagahu, Anthony Jelonch, Thomas Laclayat, Julien Marchand, Peato Mauvaka, Emmanuel Meafou, Charles Ollivon, Romain Taofifenua, Sebastien Taofifenua, Reda Wardi en Cameron Woki.

Agterspelers: Louis Bielle-Biarrey, Jonathan Danty, Nicolas Depoortere, Gael Fickou, Emilien Gailleton, Antoine Gibert, Matthieu Jalibert, Melvyn Jaminet, Nolan le Garrec, Matthis Lebel, Maxime Lucu, Yoram Moefana, Damian Penaud en Thomas Ramos.

Bepalings:

2 Februarie: Frankryk teen Ierland op die Stade Velodrome

10 Februarie: Frankryk teen Skotland op Murrayfield

25 Februarie: Frankryk teen Italië op die Stade Pierre Mauroy

10 Maart: Frankryk teen Wallis op die Principality-stadion

16 Maart: Frankryk teen Engeland op die Parc OL

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

Julle het jul kans gehad, daar is nou heelwat ander spanne wat die Bokke wil onttroon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.