VRK-reeks: Bulls kook, maar laat vier drieë deur

(Foto: SA Rugby Magazine)

Wanneer ʼn rugbyspan se agterlyn ses drieë druk, is daar mos baie min om oor te kla.

Wanneer sy voorspelers boonop oorheers, gaan dit mos klopdisselboom.

Dit het die Bulls Saterdagmiddag in die Stadio Sergio Lanfranchi in Parma onderstreep toe hulle Zebre met 54-29 in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop het nadat hulle rustyd met 24-19 voor was.

Maar hoewel die oorwinning die teleurstelling van verlede week se slae en lustelose vertoning teen Ulster op die rak geplaas het, kan die Bulls nie heeltemal tevrede met hul verdediging wees nie.

Om vier drieë teen een van die melkkoeie in die reeks af te staan, is nie goeie leesstof nie.

Tog was daar baie meer positiewe as negatiewe, beginnende by die vlugvoetige oud-Puma Devon Williams, wat soos ʼn vars briesie op heelagter trek.

Dan het David Kriel op senter ’n driekuns aan drieë behaal.

Hy is sterk, vinnig, het goeie voorgevoel, maak die lyn reguit en ken die kortpaaie doellyn toe.

Die losskakel Johan Goosen speel ook met al hoe meer selfvertroue. Hy hou sy span op die voorvoet met sy lang taktiese skoppe, sy stelskopwerk pale toe is uit die boonste rakke en hy skep geleenthede vir sy agterlyn op volle vaart.

Die skrumskakel Zak Burger kan ook tevrede met sy vertoning voel.

Voorlangs was die slotpaar Ruan Nortjé (hy is as speler van die wedstryd aangewys) en Janko Swanepoel, die kaptein Marcell Coetzee en die woelige haker Akker van der Merwe pure goud.

Dit bly een van die raaisels hoekom Van der Merwe so lank deur die Springbokkeurders oor die hoof gesien is nadat hy in 2018 in drie toetse gespeel het.

Saam met die jongeling-agtsteman Cameron Hanekom en Elrigh Louw en die bul-stutte Wilco Louw en Simphiwe Matanzima, het die Bulls die grondslag gelê.

Loop maar lig, dié Bulls kan die seisoen baie ver vorder.

Puntemakers: Bulls 54 (28): Drieë: Akker van der Merwe (2), Sergeal Peterson, Devon Williams (2), David Kriel (3). Doelskoppe: Johan Goosen (6), Chris Smith (1).

Zebre 29 (15): Drieë: Iacopo Bianchi, Geronimo Prisciantelli, Scott Gregory, Lorenzo Pani. Doelskoppe: Prisciantelli (3). Strafdoel: Prisciantelli.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.