VRK-reeks: Glasgow Warriors vlek Bulls se tekortkominge oop

Die truie waarmee die Bulls opgedraf het (Foto: BlueBullsRugby/Twitter)

Die kenmerke van ʼn kampioenspan is om aan die wenkant te bly, al speel hy die dag nie goed nie.

Die Bulls het deur die jare dié kenmerke gewys, maar in hedendaagse rugby is dit haas onmoontlik om aan die wenkant te bly.

Dit het Saterdagaand op Scotstoun in Glasgow gebeur toe die Glasgow Warriors die Bulle in die Verenigde Rugbykampioenskap met 35-21 gemesmeraais het nadat hulle rustyd met 28-7 voor was.

Die Bulls was haas onkenbaar in hul pienk truie en het ʼn vertoning gelewer wat net gebruik kan word om die spelers uit te trap en op hul foute te wys.

Die Bulls het sonder passie gespeel, hulle was sonder energie en is fisiek oordonder.

Ja, dit was nie die beste Bulls-span nie en ja, hulle is kwaai deur die Ierse skeidsregter Andy Brace gestraf. En ja, dit het boonop gereën ook.

Maar was dit werklik verskonings?

Die Bulls, wat ses Springbokke in die uitdrafspan gehad het met die ervare Bismarck du Plessis, Morné Steyn en Embrose Papier op die bank, het geen teenvoeter gehad vir die vurige Skotte nie.

Die Bulls was reeds van die afskop af onder druk toe die Warriors se Argentynse vleuel Sebastian Cancellieri en die heelagter Josh Mackay gate in die verdediging oopgeruk het.

Die Bulls het ʼn strafskop gestaan en toe die loskopstut Matt Fagerson ná ’n lynstaan-rolmaal die tuisspan se eers te drie gedruk het, het die krake gewys.

Toe die Warriors ná net 11 minute met 14-0 was nadat Cancellieri sy eerste drie vir die Warriors gedruk het, was die skade berokken.

Wat kommerwekkend was, was dat die Bulls nie kon terugveg nie, dat hulle nie die Warriors se rolmale behoorlik kon stuit nie, dat hulle nie daarin kon slaag om die Warriors terug te duik nie en dat hulle toegelaat het dat die Warriors hulle geboelie het wat tot ʼn paar opstootjies gelei het.

Hier en daar was daar opflikkeringe, soos die paar goeie lopies wat die kwiksilwer Kurt-Lee Arendse ingekry het, maar die vermoë om as ʼn eenheid te speel en om die Warriors in die vaste fasette te wurg, was afwesig.

Die eindtelling het darem ʼn bietjie beter gelyk toe twee van die plaasvervangers, Bismarck du Plessis en Janko Swanepoel, drieë gedruk voordat die eindfluitjie geblaas het.

Maar die Bulls is hul onoorwonne vertoningslys kwyt en hul ego’s is deur die Warriors se denker-afrigter Franco Smith gekrenk.

Dis geensins die einde van hul aanspraak nie, want dink maar terug aan hoe die Bulls hulle verlede seisoen uit die loopgraaf geveg het.

Dalk was dit die regte medisyne, maar ai, dit was ʼn bitter pil om toe te kyk hoe die Skotte die Bulls aan die gorrel geruk het.

Puntemakers: 

Glasgow Warriors 35 (28): Drieë: Matt Fagerson, Sebastian Cancelliere, Scott Cummings, George Horne, Josh McKay. Doelskoppe: Horne (5).

Bulle 21 (7). Drieë: Kurt-Lee Arendse, Bismarck du Plessis, Janko Swanepoel. Doelskoppe: Chris Smith (2), Morné Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

N ·

As die Bulle wen dan word dit uit perporsie uit gerui in die media maar as hulle verloor is daar hier en daar n weg gesteekte beriggie. Koop maar nog ou Jake White, koop sommer almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.