VRK-reeks: Lions kry slae in Haaitenk

Kweek ‘n wenspan en die toeskouers sal in hul duisende terugkeer.

Dit het die Sharks Vrydag op Kingspark in Durban ondervind toe hulle die Lions in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 37-10 geklop het nadat hulle rustyd met 12-7 voor was.

Sedert Neil Powell die leisels by Sean Everitt oorgeneem het, is daar ‘n vars briesie in Durban.

Die Sharks borrel weer oor van energie, hulle het die juk van middelmatigheid afgeskud en is nie bang om foute te begaan nie.

Die spelers se selfvertroue is terug, want hulle word nie ‘n in dwangbuis gedruk nie.

Hulle skroom ook nie om die bal wyd te rek nie, hul hantering en besluitneming het baie verbeter en dis geen wonder nie dat daar sowat 25 000 toeskouers op Kingspark was om hul span aan te spoor.

Die Lions sukkel steeds om die sogenaamde plaaslikespan-sindroom te skud.

Wanneer hulle teen oorsese spanne en ook tuis speel, word daar nie geskroom om aan te val nie. Maar wanneer hulle in plaaslike derbies speel, kruip hulle in hul doppe, of so lyk dit altans.

Vrydagaand het die bal in die eerste helfte skaars een keer verder as die binnesenter gevorder. Hoe gaan jy só drieë druk?

Die Lions se taktiek was om hoog te skop, maar dit het ook weinig vrugte afgewerp.

Die rustydtelling het die Lions gevlei, want die Sharks moes verder voor gewees het.

Die Lions het hul enigste drie direk na die afskop (ná die Sharks se Boeta Chamberlain se drie) gedruk toe Jeandré Labuschagne nie die bal kon bemeester het nie en die Lions se Edwill van der Merwe sy rollende opvolgskop toegeval het.

Waar was die Lions se teenaanvalle, hul vermoë om vlak en dan diep te speel en geleenthede te probeer skep?

Wat vir die Sharks belangrik was, was dat hulle ‘n hele paar Springbokke soos Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth, Ox Nche en Siya Kolisi (hy is wel in die tweede helfte opgestuur) ‘n blaaskans gegee het.

Hulle het nou genoeg diepte en aan selfvertroue en momentum ontbreek dit nie.

Puntemakers:

Sharks 37 (12): Drieë: Makazole Mapimpi (2), Boeta Chamberlain, Grant Williams, Siya Kolisi. Doelskoppe: Curwin Bosch (2), Lionel Cronje. Strafdoele: Bosch, Cronjé.

Lions 10 (7): Drie: Edwill van der Merwe. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoel: Hendrikse

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.