VRK-reeks: Stormers bly op wenpad teen Zebre

(Grafika: @THESTORMERS/Twitter)

Die oorsese spanne in die Verenigde Rugbykampioenskappe gaan nog baie nagmerries daaroor kry: hul onvermoë om hul man te staan in die skrums teen die fisieke Suid-Afrikaanse spanne.

Saterdag in Parma was dit Zebre se beurt om onder die krag van die Stormers-voorry mee te gee en onder die fluitjie van die Ierse skeidsregter Eoghan Cross deur te loop. Dit het uitgeloop op drie strafskoppe in drie skrums binne die eerste vyf minute.

Hoek toe, rolmaal en punte!

Dit het die Stormers op die voorvoet geplaas om hul kragmeting met 37-20 (met ʼn bonuspunt) te wen nadat hulle rustyd met 17-7 voor was.

Zebre kan ook baie gelukkig wees dat die Stormers se twee Springbokke-stutte Steven Kitshoff en Frans Malherbe nie gespeel het nie, want dan kon die slagting soveel groter gewees het, veral omdat hulle teen Allister Vermaak en Neethling Fouché gesukkel het.

Dit was nie ʼn aanskoulike wedstryd nie, met net hier en daar opflikkeringe, want daarvoor was daar te veel onderbrekings, te veel foute en te veel skoppe deur beide spanne.

Dit is seker maar die patroon wat deesdae al hoe meer gevolg gaan word, spel wat onderbreek word omdat die televisieskeidsregter gereeld geraadpleeg word vir gevaarlike spel en hoogvatte.

Boonop word elke wedstryd vier keer onderbreek wanneer daar water gedrink word.

Dan word elke wedstryd verder vertraag omdat plaasvervangers opgestuur word en momentum verder gebreek word.

Nietemin, die Stormers is steeds onoorwonne ná drie wedstryde. Hulle kan hul span ook baie versterk wanneer al hul Springbokke beskikbaar is.

Die Stormers se groot uitblinker was die jong senter Sacha Mngomezulu, wat 22 punte aangeteken het wat bestaan het uit ʼn drie, vier doelskoppe en drie strafdoele.

Aan talent onderbreek dit beslis nie by die Stormers nie en hulle het ʼn fisieke pak wat nie ʼn duit terugstaan nie.

Maar hulle kon nog nie op alle suiers vuur nie.

Puntemakers: Stormers 37 (17): Drieë: Junior Pokomela, Neethling Fouché, Herschel Jantjies, Sacha Mngomezulu. Doelskoppe: Mngomezulu (4). Strafdoele: Mngomezulu (3).

Zebre 20 (7): Drieë: Christopher Cook, Ion Neculai. Doelskoppe: Tiff Eden (2). Strafdoele: Eden (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.