VRK-reeks: Stormers trek Sharks se tande

(Foto: SA rugby magazine)

Wanneer enige rugbyspan 16 strafskoppe afstaan, gaan hy sukkel om te wen.

Dit was Saterdag in die Kaapstad-stadion die voorland van die Sharks toe hulle met 16 – 15 deur die Stormers in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop is.

Dit was die Sharks, van wie die seisoen só baie verwag is met al hul Springbokke in die spelerspens, se sewende nederlaag dié seisoen.

Wat die Sharks se verhaal nog treuriger maak, is dat hulle laaste op die punteleer sal wees as die Walliese Dragons Sondag die Scarlets klop.

Dit was boonop nie ʼn goeie vertoning deur die Stormers nie. Maar soos hulle sê, die kenmerk van ʼn goeie span is as hy aanhou wen, al speel hy die dag swak.

Die Kaapstad-stadion was weer die Stormers se grootste bondgenoot nadat hulle sedert 2021 nog net twee keer (albei kere teen Munster) in die Kaap verloor het.

Die Stormers is ook erg ontwrig toe albei senters, Ruhan Nel en Dan du Plessis, met beserings die veld verlaat het.

Met net twee agterspelers op die bank het dit daartoe gelei dat die groentjie-losskakel Jurie Mathee heelagter toe geskuif is, Damian Willemse het gaan senter speel en die skrumskakel Paul de Wet het tussen senter en vleuel uitgehelp.

Maar dit het nie gelyk asof die Sharks dié probleme kon uitbuit nie terwyl hul dissipline erg gelol het.

Terwyl die skrumskakel Jaden Hendrikse op die veld was, het hulle ook onnodig baie geskop. Selfs toe hy deur Grant Williams vervang is, het die Sharks se agterlyn selde oor die voordeellyn gekom.

Voorlangs was die Sharks voor die afskop teen die planke toe die Springbokslot Eben Etzebeth hom weens ʼn maagongesteldheid aan die span onttrek het.

Die jong Corné Rahl moes saam met die ewe jong Emile van Heerden die gate probeer toestop.

Boonop kon die Sharks, ondanks die twee Springbok-stutte Oxe Nche en Coenie Oosthuizen, nie veel hond haaraf in die skrums maak nie.

Die groot vraag is wanneer die Sharks na ʼn hoër rat gaan oorskakel. Met agt Springbokke en ʼn Blitsbok in die span moes dit straks Saterdag al gebeur het.

Lê die fout by die spelpatroon wat die afrigter John Plumtree hand en mond belowe, maar nie uitgevoer kan word nie, of is daar spelers wat hul rakleeftydtyd bereik het?

Nietemin was daar tekens dat die oplewing dalk om die draai is.

Vir die Stormers gaan die wenmomentum baie beteken, al speel hulle nie altyd goed nie.

Hulle smoor die ander spanne met hul verdediging en het genoeg spelskeppers met jongelinge soos Ben-Jason Dickson en Andre-Hugo Venter wat uittroon.

Puntemakers: Stormers 16 (10): Drie: Adré Smith. Doelskop: Manie Libbok. Strafdoele: Libbok (3).

Sharks: 15 (5): Drieë: Werner Kok, Corné Rahl. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoel: Bosch.

 

In die twee ander wedstryde in die VRK-reeks wat Saterdag gespeel is, het Edinburgh in die Skotse hoofstad sy kragmeting met die Glasgow Warriors met 19 – 14 gewen nadat Duhan van der Merwe kort voor die einde die wendrie ná ʼn lopie van sowat 60 meter gedruk het.

Benetton het in Treviso ʼn oorwinning van 36 – 14 oor Zebre behaal.

Leinster (33 punte) is steeds voor op die puntelys ná agt wedstryde, gevolg deur Benetton (32), Glasgow Warriors (31 ná nege wedstryde) en dan Edinburgh, die Bulls en Stormers (almal 26 punte).

Die Sharks het net agt punte en is slegs twee punte voor die Dragons (6).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.