Vrystaat-Cheetahs maak seker van vierde plek

(Foto: Cheetahs/Facebook)

ʼn Mens wonder steeds wat sou gebeur het as vanjaar se Superrugby Unlocked-wedstryd tussen die Lions en die Vrystaat-Cheetahs op Ellispark nie vanweë die Covid-19-pandemie afgelas is nie.

Dis ou nuus dat albei spanne twee punte gekry het en dit kan vorentoe ʼn rol speel wanneer die Curriebeker-reeks komende naweek begin, want die ligapunte wat in die Unlocked-reeks verower is, word na die CB-reeks oorgedra.

Die Cheetahs het Saterdag in Bloemfontein, nadat hulle die Griekwas met 28-9 geklop en ʼn bonuspunt verower het, die vierde posisie (17 punte) vasgemessel met die Bulls (23 punte), Stormers en Sharks (albei 19) wat voor hulle ingeskuif het.

Die Lions het agter hulle op 12 punte geëindig, gevolg deur die Pumas en Griekwas.

Hoewel die telling op ʼn redelike oorwinning vir die Cheetahs dui, was dit nie so maklik op ʼn nat veld met ʼn glibberige bal nie.

Soos menige derbie-wedstryde tussen die Cheetahs en Griekwas, was die Poubloues vol plofkrag.

Die Cheetahs het wel vier drieë gedruk, maar dit was nie aanskoulik soos ondersteuners die afgelope 50 jaar of wat daaraan gewoond geraak het nie.

Hoe lyk sake vorentoe?

Dit gaan beslis nie maklik wees om oor die volgende paar weke in die somermaande en oor die feestyd rugby te speel nie. Die Cheetahs het darem al ervaring daarvan opgedoen in die Pro-14-reeks en as Ruan Pienaar van sy besering herstel het, kan die Cheetahs groot baat daarby vind.

Maar gaan dit genoeg wees om die Bulls, Stormers en Sharks te klop? Gaan die puntelys-agterstand nie te veel wees nie?

Vir die Griekwas sal dit ʼn opdraande (eintlik maar ʼn onbegonne) stryd wees, hoewel die span nooit in die skande gesteek is nie.

Daar is jong spelers met talent, maar kan die Poubloues die pas volhou?

Punte:

Vrystaat-Cheetahs 28 (8): Drieë: Andisa Ntsila, Howard Mnisi, Pieter de Haas, Jeandré Rudolph. Doelskop: Frans Steyn. Strafdoele: Tian Schoeman (2).

Griekwas 9 (9): Strafdoele: Tinus de Beer (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Soms wonder \n mens of die opstellers van kompetisies by hul volle verstand is.Kyk na die punteleer.Tafel Lager Griquas eindig op 3=20 punte agter Bullr. Phakisa Pumas op 7=16 punte agter Bulle,Leeus op 12 =11 punte agter Bulle.
JY moet werklik glo dat die maan van kaas gemaak is as jy glo dat een van die drie spanne die Curriebeker met die agterstand kan wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.