Wallabies pluk (net-net) Hane se vere

Die Australiese kaptein James Slipper vier sy span se oorwinning oor die Franse. (Foto: Patrick Hamilton/AFP)

Net drie punte.

Dít is wat die Wallabies en Franse rugbyspanne ná 260 minute geskei het nadat hul blitsreeks van drie toetswedstryde Saterdag in Brisbane ten einde geloop het.

Die Wallabies was in die laaste toets met 33-30 baas nadat die rustydtelling 20-20 was.

Hulle het die eerste kragmeting met 23-21 gewen, maar die tweede met 26-28 verloor.

Die Wallabies het dus die reeks met 2-1 beklink nadat hulle 82 punte en die Hane 79 aangeteken het.

Hoewel die Franse die reeks verloor het, kan hulle baie meer uit drie toetse pluk wat binne die bestek van ʼn paar dae gespeel is.

Dit was ʼn jong en onervare toerspan, want die afrigter, Fabian Galthie, het daarteen besluit om enige van sy topspelers wat drie weke gelede vir Toulouse en La Rochelle in die Franse Top-14-reeks se eindstryd gespeel het, te oorweeg.

Dan moes die span in Australië ʼn ruk lank in isolasie deurbring.

Galthie het die uitdaging aanvaar en sy “tweede span” het so byna die knoop deurgehak. Daar is nou genoeg diepte gebou vir die Wêreldbeker-toernooi wat in 2023 in Frankryk gespeel word.

Vir die Wallabies se afrigter, Dave Rennie, het dinge nie seepglad verloop nie.

Die Wallabies moet oor slegs ʼn paar weke teen die All Blacks, Springbokke en Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap speel en swaarkry se dae lê voor.

Dit is hoekom dit so belangrik was dat die Wallabies die reeks gewen het, anders was daar ʼn hele paar rooi gesigte.

Op die keper beskou, kan die Wallabies die houtlepel in die Rugbykampioenskap kry, want afgesien van die twee Fidjiaanse vleuels Marika Koroibete en Filipo Daugunu, en die beseerde James O’ Connor, is die Wallabies maar dun agterlangs.

Ja, die Wallabies moet darem ʼn paar pluspunte ook kry, want hulle het Daugunu (gebreekte arm) en Koroibete (rooi kaart vir ʼn gevaarlike hoogvat) vroeg Saterdag verloor, maar steeds deurgetrek.

Voorlangs is daar ʼn paar vuurstokers soos Isi Naisarani, Michael Hooper en Lukhan Salakai-Loto, maar sal hulle die All Blacks, Springbokke en Poemas se voorspelers in toom kan hou?

Punte: Australië 33 (20): Drieë: Tate McDermott, Noah Lolesio, Taniela Tupou. Doelskoppe: Lolesio (3). Strafdoele: Lolesio (4).

Frankryk 30 (20): Drieë: Baptiste Couilloud, Cameron Woki, Pierre-Louis Barassi. Doelskoppe: Melvyn Jaminet (3). Strafdoele: Jaminet (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Ek is spyt ek het hierdie reeks gemis. Die tellings dui daarop dat dit ‘n besonderse mededingende reeks was. Regte naelbyt toetsrugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.